GOD MAAK HOOGTES GELYK
  In Jes. 45:2 staan daar: “Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak.” Dan verklaar Jes. 65:24 ook: “Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor.”
Dit is God wat voor ons uitgaan en hoogtes gelykmaak. Wanneer ons by ‘n hoogte kom, vind ons dat Hy alreeds daar was. Sy Woord gaan soos ‘n padskraper (“bulldozer”) voor ons uit om die pad gelyk te maak. In God se voorkennis het Hy reeds geweet dat ons Hom nodig sal hê. Daarom het Hy tóé reeds gehandel deur die hoogtes gelyk te maak.
Let op die verhaal van Mórdegai, hoe hy die koning gewaarsku het dat twee manne hom wou doodmaak, en hoedat dit later vir hom ten goede meegewerk het. In Ester 2:21-23 lees ons “…in dié dae dan, terwyl Mórdegai in die poort van die koning sit, het Bigtan en Teres, twee hofdienaars van die koning, drumpelwagters, kwaad geword en getrag om die hand aan koning Ahasvéros te slaan. Maar Mórdegai het dit te wete gekom en dit aan koningin Ester meegedeel; en Ester het dit uit naam van Mórdegai aan die koning gesê. Toe die saak ondersoek en so bevind is, is hulle twee aan ’n galg opgehang; en dit is in die kroniekboek voor die koning beskrywe.”
In Ester 6 lees ons dat die koning een nag nie kon slaap nie, en daar is op sy bevel vir hom voorgelees uit die gedenkskrif. Daarin sien hy toe dat Mórdegai op ‘n stadium sy lewe gered het. Intussen word in Ester 5:10-14 verhaal hoedat Haman by sy vrou en vriende gespog het oor sy rykdom en eer, maar nogtans wou hy ook sy hand aan Mórdegai slaan. Sy vrou en vriende gee hom toe dié raad: “Laat hulle ’n galg van vyftig el hoog maak, en sê môre vroeg aan die koning dat hulle Mórdegai daaraan moet ophang; gaan dan vrolik saam met die koning na die maaltyd. Dié woord het Haman geval, en hy het die galg laat maak.”
Haman was júís op pad na die koning om te versoek dat hulle Mórdegai moes ophang, toe die koning hom vra: “Wat moet met die man gedoen word aan wie die koning eer wil bewys?” (Ester 6:6). Omdat Haman gedink het dit was vir homself, het hy voorgestel dat dié man op ‘n perd moes ry met ‘n koningskleed aan en dat iemand voor die perd moes loop en roep: “So word gedoen aan die man aan wie die koning eer wil bewys!” Die koning gee toe bevel dat Haman dit met Mórdegai moes doen! Ons weet dat Mórdegai nooit aan die galg opgehang is nie, maar Haman het aan sy eie galg gesterf!
God het Mórdegai se hoogte, nl. die voorneme van Haman om hom dood te maak, gelykgemaak lank voordat Mórdegai by daardie hoogte gekom het; selfs voordat hy kon wéét om God oor so ‘n hoogte aan te roep. Ons kan dus nie sien dat hoogtes gelyk is voordat ons nie dáár kom en deur gebed in die Geesdimensie inbeweeg het nie. “God is Gees” (Joh. 4:24), en daarom moet ons in Geesdimensie leef om te kan ervaar dat Hy reeds die hoogtes gelykgemaak het (Vgl. Elisa en sy dienskneg - 2 Kon. 6).
Voordat ons egter in Geesdimensie kan wandel, sal ons beproewinge/versoekinge/toetsing beleef: “Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet” (Jak. 1:12 NV). Die Ou Vertaling lees: “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”
Daar is beloning vir dié wat standvastig bly en aanhou om God te vertrou. Gedurende die toets moet ons egter nie uitsprake maak soos: “Die Here het my verlaat” nie. God kán jou nie verlaat nie. Hy is ALOMTEENWOORDIG! Maar wanneer ons sondig, kan daar ‘n skeidsmuur tussen ons en God kom. In Jes. 59:1-2 staan geskryf: “Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.” Ook Jes. 49:14-16 - “MAAR Sion sê: Die HERE het my verlaat, en die Here het my vergeet! Kan ’n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My.” (Vgl. ook Ps. 139). Hou net vas aan die Here, en jy sal sien hoe Hy, selfs voordat jy nog geroep het, jou hoogtes gelykgemaak het. HY KÁN JOU NIE VERLAAT NIE!
(JJ Venter)

Indeks     Index