VAN PLAKKERSKAMP TOT ONTWIKKELINGSENTRUM
Gretha le Roux
 

Dit was vir ons 'n baie besondere voorreg om 'n besoek te kon bring aan Lochvaal se Deurgangshuis en Ontwikkelingsentrum wat 6 jaar gelede deur Sally Bruwer gestig is. Haar liefde vir God en haar medemens het haar gedryf om prakties betrokke te raak by die nood van hawelose en hulp-behoewende mense.
Omdat hierdie werk uit God gebore is en dit Sy hartklop weerspieël, onderneem Hy ook wonderbaarlik om die nood te verlig deur Sy beskikbare en gewillige kinders. As daar nie kos is nie, word daar gebid en Vader stuur iemand met die noodsaaklikste. Mieliepap is die stapelvoedsel; daarom is hulle so dankbaar vir elke sak mieliemeel wat die boere skenk.
Die Sentrum onder leiding van Sally van die SAVF, is 'n geregistreerde welsyns-organisasie, nie-polities, en interkerklik. Hulle kry geen subsidie of vergoeding van enige instansie nie en is dus totaal afhanklik van God en die publiek vir sy voortbestaan.
Alhoewel die behoeftes oneindig is, word daar reeds 'n geruime tyd opleiding en ontwikkeling aan alle werklose persone gebied. Hierdie instansie is nie 'n vakansieoord waar leeglêers kan kom uitspan nie. Dissipline word streng, maar liefdevol, toegepas. Hier doen elkeen sy of haar werk - van vloere was tot bouwerk.
Die Here het 'n sakeman van Johannesburg geroep en gelei om die ellende raak te sien waarmee Sally geworstel het toe sy die plekkie begin het; aanvanklik soos 'n plakkers-kamp met tente waar 'n paar gesinne saam moes bly onder haglike omstandighede. Hy het die 2,5 ha. plot vir hulle gekoop en geregistreer onder die naam van die SAVF Vanderbijlpark waarvan Sally die voorsitter en streekleier is. Daarna het hy materaal verskaf vir die bou van slaaplokale, wasgeriewe, 'n kombuis met eetsaaltjie wat alles onder die leiding van Sally se man, deur die inwoners self opgerig is en baie skoon en netjies versorg word. Hulle is oop vir alle bevolkingsgroepe, maar weens regstellende aksie is hier tans net blanke inwoners. Huidiglik is die inwonertal 98 volwassenes en 28 kinders, voorskool, laer- en hoërskool.
Die mans is verantwoordelik vir bou-, sweis-, en herstelwerk. Ook is hulle verantwoordelik vir die gronde, asook 'n groente-tuintjie, doen tuindienste in die omgewing en maak rame vir lapverfskilderye. Hulle versorg die hout vir die "donkie" wat die warm water voorsien.
Die vroue is verantwoordelik vir die skoonmaak van die geboue, kookwerk, naaldwerk, en word pragtige lapskilderwerk geleer. Hulle maak groete- en bedankingskaartjies, doen piekel-inlêwerk wanneer groente beskikbaar is en het ook begin met 'n klein koekie- asook 'n breiprojek.
Die Sentrum bied plek aan werklose, hawelose en verwerpte bejaardes, gesinne en kinders wat geen ander heen-kome het nie, en voorsien hulle van voedsel en kleding. Mishandelde vroue en kinders, ongehude moeders, onder-voede en selfs persone wat HIV-positief is, kry hulp en berading. Die afgelope jaar is daar meer as 900 persone gehuisves waarvan talle weer na 'n paar maande in 'n betrekking teruggeplaas is in die samelewing, opgebou en gemotiveerd. Die ouderdomme wissel vanaf babas tot bejaar-des. Alhoewel die meeste in geboue gehuisves word, is daar nog steeds gesinne wat in tente moet bly. Ses nuwe gesins-kamers is byna voltooi, maar die nood bly steeds groot, want werkloosheid en ellende neem steeds toe en die waglys word steeds langer.
Geloof en gebed hou die plek aanmekaar. Inwoners word so ver dit moontlik is, verplig om beide dienste op 'n Sondag by te woon. 'n Nabygeleë kerk stuur dan ook hulle bussie om die mense in groepe aan te ry. 'n Leraar besoek hulle en hou bidure. Geestelike bearbeiding gaan hand aan hand met die fisiese versorging.
U voorbidding vir hierdie projek sal baie waardeer word. Daar is "ope dae" vir die publiek waar almal kan kom kyk wat inwo-ners doen en hoe hulle lewe.
Met so baie monde om te voed en die nood so dringend en oneindig, doen ons 'n beroep op die lesers om medewerkers te word deur enige bydrae te stuur, vanaf kos, veral suiker, tee, koffie, soppoeier, meel, groente, en enigiets eetbaar, asook meubels, klerasie, gordyne, matte, beddegoed, hout, skoonmaakmiddels, bou-materiaal, verf, gereedskap, stofsuiers, ketels, "urns", strykysters, verbande en mediese items.
Daar word ook groot items soos 'n yskas, vrieskas, koolstoof, rekenaar, en 'n voertuig dringend benodig. Spr. 19:17 sê: "Wie hom ontferm oor 'n arm mens, gee 'n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed." Wil u nie betrokke raak by die hartklop van ons hemelse Vader nie? Mag ons nooit eendag die woorde hoor: "Ek was honger, dors, en naak en julle het vir my niks gegee nie!"
Sally Bruwer se Tel. & Faksnr. (016) 9871948. Sel: 083 496 9052. Bankbesonderhede: ABSA nr. 530148009. Adres: Posbus 14592, Zuurfontein, 1912.
Kontakpersone in Potchefstroom: Talita Kroon by (018) 293 0097; Van Wyklaan 32, Potchefstroom, of skakel Gretha le Roux by (018) 290 1802.






Indeks     Index