LIEFDE SONDER WEERGA...
 

Die volgende ware verhaal is by ‘n Konferensie in Missouri vertel:
Dit het gebeur in een van die Nazi-kampe waar die Jode uitgewis is.
Hierdie was ‘n werkkamp en solank jy kon hard werk, is jy nie na die gas-oonde gestuur nie. In die familie van Solomon Rosenberg was die eerste slagoffers sy afgeleefde ouers van in die tagtig. Hulle kon nie die onmenslike omstandighede, die lang werksure, tekort aan voedsel en onhigiëniese toestande verduur nie.
Solomon het besef dat die volgende in sy familie heel waarskynlik sy jongste seun, David, sou wees. Hy was gebreklik en kon al minder die harde werk verrig.
Elke oggend is die familie geskei en na hul onderskeie werksplekke. Saans, as hulle teruggekeer het na die barakke het hulle teen mekaar opgekrul om te slaap. Die vader het elke dag met vrees en bewing tegemoet gegaan en gewonder of dít die dag van afskeid van sy klein David sou wees.
Elke aand het sy oë die barakke deursoek om sy seuntjie, David, te vind. Dan het hy sy oudste seun Jacob gesoek, asook sy vrou.
En toe breek die aand aan waarvoor hy gevrees het! Toe hy in die barakke kom, kon hy nie een van sy familielede sien nie. Hy was desperaat! Hy het gesoek en gesoek na die kosbare gesigte van sy geliefdes en eindelik het hy sy seun, Jacob, gesien. Hy het gehurkend gesit en huil.
Solomon kon nie vir David of sy vrou sien nie. Hy het na Jacob gehaas en gevra: “Seun, sê my dit is nie waar nie! Het hulle klein David geneem?”
“Ja, Pappa...hulle het David vandag geneem. Hulle het gesê hy kon nie langer sy werk doen nie.” “Maar sê my, waar is mamma? Sy is tog nog sterk. Hulle het haar tog sekerlik nie óók geneem nie?” Jacob het met traangevulde oë na sy vader gekyk. “Pappa...pappa, toe hulle David kom haal, was hy so bang en hy het gehuil. Toe sê Mamma vir hom: ‘Moenie huil nie, David. Ek sal saam met jou gaan en jou styf vashou.’ En so het Mamma gegaan.” Sy het haar seuntjie vasgehou sodat hy nie bang hoef te wees nie.
Dawid het hierdie bestendige, standhoudende liefde só beskryf: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my...” (Ps. 23:4).
[Uittreksel uit: Geen Groter Liefde - Robert Strand]

Indeks     Index