DIE BETEKENIS VAN JOU NAAM...
  Ds. Wesley Lamprecht NG Kerk Potch-Oos

LEES Gen.17:1-6. “Dit is my verbond met jou: jy sal die vader wees van ‘n menigte nasies; jy sal nie meer Abram genoem word nie, jou naam sal Abraham wees, want Ek maak jou die vader van baie nasies. Ek sal jou baie vrugbaar maak, Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom” (Gen.17:4-6).

1. DIE WAARDE VAN ‘N NAAM...
Mense van die ou tyd was baie meer ingestel op die waarde en betekenis van ‘n naam as ons vandag. ‘n Persoon het by geboorte ‘n naam gekry, wat tekenend was van sy posisie in die gesin, of soms ook van omstandighede tydens sy geboorte of van ‘n toekomsdroom wat sy ouers vir hom gehad het.
Sommige mense se name is selfs later in hulle lewens verander: Abram word Abraham (vader van ‘n groot menigte); Jakob (bedrieër) word Israel (prins van God), Ben-Oni (seun van my smarte) word Benjamin (seun van my ouderdom), ens. Van mense is daar verwag om hulle name te beskerm deur eerbaar te lewe (Spr. 11:16; 22:1) en ook om gestalte te gee aan die profetiese waarde van hulle naam, soos in die geval van Abraham.

2. WAT IS JOU NAAM..?
Baie mense het vandag nog name wat ‘n bepaalde betekenis dra. Die meeste mense ken egter nie meer die betekenis van hulle name nie – al wat hulle weet, is bv. dat hulle naam ‘n stamnaam is; m.a.w. dit was die naam van een van hulle voorouers.
Jy is vernoem na ‘n oupa of ouma, ouer of familielid en daarmee is die verwagting gestel dat jy in sekere opsigte in daardie persoon se voetspore sou loop.
Maar JY wat GEDOOP is, of dit nou deur onderdompeling of deur besprinkeling was, het jy ooit besef dat daar ook ‘n ander naam as jou voorname aan jou toegesê is? Besef jy dat die Naam van die Drie-enige God oor jou uitgespreek is?
Meer nog: Jy wat jouself graag as ‘n Christen beskou, besef jy dat hierdie naam (Christen) van die Bybelse tye af ‘n versamel–naam (‘n familienaam!) is vir mense wat die karaktertrekke van Jesus Christus in hulle lewens vertoon? (Vgl. Rom.16:7; Hand.11:26).

3. WEES JOU NAAM WAARDIG!
James Kennedy, die outeur van die EE III kursus, vertel die aangrypende verhaal uit die lewe van Alexander die Grote, een van die magtigste en strengste aanvoerders wat daar ooit was. ‘n Vreesbevange jong seun is eenmaal na Alexander gebring om verhoor te word, omdat hy vir die vyand gevlug en weggekruip het.
Alexander was ontsteld oor die seun se lafhartigheid; hy sou hom swaar moes straf daarvoor, maar het ook besef dat die seun nog baie jonk was en het besluit om hom te begenadig. Toe hy met sy uitspraak moes begin, vra hy aan die seun wat sy naam is. Bang kom die antwoord: “Alexander, meneer.”
Alexander het rooi van woede geword en herhaaldelik vir die seun gevra wat sy naam is; hy kon sy eie ore nie glo dat iemand wat sy naam dra, so lafhartig kon wees nie.
Uiteindelik het hy, rooi in die gesig, opgespring en vir die seun geskreeu:

VERANDER JOU GEDRAG, OF VERANDER JOU NAAM!!
Is jou naam CHRISTEN? Dan dra jy die Naam van die Persoon wat aan die kruis vir jou gesterf het; die Man wat niks, geen pyn, lyding of smart, ontsien het om jou te bevry nie. Dra die Naam van Jesus Christus met EER, of, as jy nie daarvoor kans sien nie, verander dan jou naam...

Indeks     Index