'N GETUIENIS VAN GOD SE
GENADE IN POTCHEFSTROOM
  - Ds. Willem Louw
Aan die begin van 1993 het twee mense afsonderlik, sonder dat hulle van mekaar geweet het, 'n roeping van die Here ontvang om 'n Organisasie in Potchefstroom te begin wat die Christelike Evangelie kan uitdra, opheffingswerk in
  agtergeblewe gebiede kan doen en werkskepping aan te moedig deur entrepeneursontwikkeling. Na twee jaar se gebed het die Here hierdie twee mense by mekaar uitgebring. Hy het hulle gelei om 'n Artikel 21 maatskappy te stig wat alle kerkverbande kon saamvoeg om hierdie doel te bereik. Vroeg in 1995 is die eerste vrywilligers byeengeroep en het die groepie mense biddend die maatskappy in die geloof gestig.
Hierdie maatskappy sou interkerklik, nie-seksisties en nie-rassig voortgaan om alle gemeenskappe in Potchefstroom te help. Verskeie individue, kerke, die staat en die plaaslike stadsraad, asook gelowiges uit Korea, het deur die jare betrokke geraak en bydraes gemaak. Dit is 'n wonderlike verhaal wat soos 'n sprokie klink. Die Here het elke dag in al ons behoeftes voorsien! Omdat die PNBS (Potchefstroom Nuwe Begin Sentrum) deur vrywilligers uit die gemeenskap bestuur word, behoort die eiendom en bates nie aan 'n persoon of kerk nie, maar aan die gemeenskap van Potchefstroom. Ons glo dit is die Here se eiendom wat maar net deur Sy kinders bestuur word tot voordeel van dié wat dit die nodigste het.
Sedert 1995 is plot 6 op Wilgeboomhoewes gekoop. Dit was in 'n verwaarloosde toestand. Daar is daar kamers gebou wat tans verhuur word en die bestaande woonhuis en woonstel is opgegradeer. Dit help om die lopende koste, daaglikse instandhouding en salaris van 'n werker te betaal.
Die meeste projekte word egter suiwer as liefdadig-heidsprojekte deur vrywilligers aangepak. 'n Kleuterskool op die plot is geprivatiseer en funksioneer reeds jare. 'n Saal is opgerig waar daar weekliks eredienste en ander gemeenskapsaktiwiteite gehou word. 'n Fabrieksruimte en opleidingslokaal is ook voltooi. Die terrein beskik ook oor goeie ablusiegeriewe. Intussen word die grond versorg en stelselmatig met pekanneutboompies beplant. Op Mooibank is ook 'n saal opgerig wat gratis tot voordeel van die gemeenskap aangewend word. Hier word ook eredienste op gereelde basis gehou.
In Sarafina was PNBS eerste om 'n stuk grond te koop en 'n steengebou vir die gemeenskap op te rig. Die gebou is gratis tot beskikking van die gemeenskap gestel vir eredienste en die oprigting van 'n kleuterskool. Tans word die Christen-kleuterskool bedryf onder toesig van 'n gemeente en die verskil in hierdie kinders se lewens is duidelik waarneembaar!
Onlangs het die stadsraad twee erwe aan PNBS geskenk in uitbreiding 6 en 7 in Ikageng. Vir elkeen van die erwe het PNBS R60 000 geskenk om 'n gebou op te rig wat as kerkgebou kan dien en ook moontlik vir kleuterskoolopleiding. Die geboue word tans deur die inwoners van die gebied opgerig (werkskepping). Verskillende kerke en gelowiges het hande gevat en bydraes gegee om een van die geboue verder te ontwikkel. PNBS het reeds onderneem om die een kerkgebou aan die VGK te skenk by die stigting van die beplande nuwe VGK gemeente! Dit is wonderwerke wat slegs moontlik is deur die genade van die Here wat almal offervaardig maak vir die projekte. Die grootste wonder is dat vrywilligers vir PNBS nou reeds vir jare evangeliste oplei m.b.v. die Timoteus Opleidingskursus. (Hierdie projek word weer deur ‘n ander kerk geborg). Talle studente het reeds die kursus voltooi en is besig om die Evangelie uit te dra. Van die studente het gemeentes gestig en gebruik van die kerkgeboue wat PNBS opgerig het. Ons is dankbaar om te meld dat 'n voltydse sendeling, me. Younge AE Kim in diens van PNBS is. Sy word deur gelowiges uit haar gemeente in Korea gefinansier. Me. Kim is voltyds besig om die Evangelie uit te dra aan skole in Ikageng. Sy besoek ook verskeie staatsdepartemente. Sy het verder in samewerking met gemeentes 'n sopkombuis vir behoeftiges op die been gebring waar sy brood aan behoeftiges voorsien terwyl sy die Evangelie bedien. Omdat daar groot behoefte aan medewerkers is, vertrou ons die Here om nog sendelinge te stuur wat hier kan werk terwyl hulle deur hulle eie gemeentes gefinansier en deur hulle gebede ondersteun word. Indien u as sendeling by PNBS wil werk, kan u gerus met ons kontak maak.
  PNBS het deur die jare ook verskeie werkskeppings- en opleidingsprojekte aangepak. 'n Voorbeeld is die "Tuck Shop" wat in Ikageng met behulp van sakemanne se skenkings opgerig is en deur een van die inwoners bedryf word. Die nood het egter steeds groter geword en tans is verskeie kerke in Potchefstroom besig om bymekaar te kom en met die hulp van Prof. Japie Kroon van die PUK, is hulle biddend besig om te bedink hoe kerke hande kan vat om die werklose mense van Potchefstroom (alle rasse) te kan help.
Een van die twee kerkgeboue wat tans in aanbou is in die armste dele van Ikageng. Die werk word deur PNBS en verskeie kerke in Potchefstroom gefinansier. Die gebou word deur inwoners van Ikageng gebou en help terselfdertyd om werklose mense van werk te voorsien.
  Om werklose mense te help om hulself te help, is een van die grootste uitdagings waarvoor die kerke te staan gekom het. Ons glo dat die Here ook hier sal voorsien en genoeg kerke en gelowiges na vore sal kom om die nood aan te spreek. Bid saam met ons vir hierdie saak en skakel ons asseblief as u kan help met fondse, boumateriaal of wat ook al! (Sel. 082 340 7549; Tel: (018) 294 8197)
Ons is dankbaar vir alles wat die gelowiges tot hier verrig het en bring al die eer aan God Drie-Enig. Soli Deo Gloria!

Indeks     Index