MEER AS EEN MILJOEN!
  Onverdiende, oorvloedige genade! Vier jaar gelede moes ons 'n keuse maak. Om ‘ja’ of ‘nee’ te sê vir God se opdrag om 'n Christelike koerant die lig te laat sien. Sonder enige fondse tot ons beskikking en met veel vrees en bewing het ons as gesin onsself tot beskikking van God gestel. En Hy het ons nie 'n enkele dag begewe of verlaat nie, maar ons dag na dag gedra!
Op 7 Maart 1998 het 'n persoon die Stem van God gehoorsaam en aan ons die nodige rekenaartoerusting ten bedrae van byna R12 000 geskenk! Hierna het nog twee persone aan ons R5 000 geskenk vir verdere programmatuur. Alles in antwoord op volhardende gebed! Gedurende April 1998 het die eerste beskeie uitgawe van "Goeie Nuus"/"Good News" die lig gesien. Dit het ons voltydse strewe en bediening geword om die Blye Boodskap van Jesus Christus uit te dra. Tienduisend eksemplare is van huis tot huis in Potchefstroom versprei met die bede dat die inhoud mense sal aanspoor om hulle lewens opnuut aan God toe te wy, om bemoedig en versterk te word, en om met volharding die geestelike wedloop te voleindig.
Presies 'n jaar later het die Here ons opgeroep om ook na Klerksdorp uit te brei. Die op-laag het vermeerder na 22 000 eksemplare per maand.
Stilfontein en Hartbeesfontein was volgende aan die beurt en gedurende Mei 2000 is reeds 27 000 koerante gratis van huis tot huis versprei. 5 Junie 2001 was 'n verdere hoogtepunt in die bestaan van "Goeie Nuus"/"Good News" toe ook na Orkney uitgebrei is. Sedert daardie dag word maandeliks 'n oplaag van 31 000 koerante van huis tot huis versprei in die POTCH/KOSH-area.
"Goeie Nuus"/"Good News" is 'n nie-winsgewende, onaf-hanklike gesinsbediening wat aan geen Kerkgenootskap of spesifieke gemeente gekoppel is nie. Ons poog om alle ware gelowiges, ongeag Kerk-verband, te bedien en ook om die Blye Boodskap aan almal wat dit nog nie gehoor of hulle eie gemaak het nie, oor te dra.
Die koerant se gratis verspreiding word moontlik gemaak deur advertensies en blymoedige gewers wat gehoorsaam is aan die Stem van God. Ons glo dat die Here elkeen sal beloon wat daartoe meehelp dat hierdie koerant maandeliks aan ongeveer 125 000 lesers beskikbaar gestel kan word. Hy, die goeie Gewer, se seëninge en barmhartighede is elke dag nuut en ons bede is dat u elkeen dit daagliks sal ondervind!
Dikwels gebeur dit nog dat ons "op die water moet loop" om 'n spesifieke koerant die lig te laat sien, maar ons bring aan God al die eer wat getrou is en ons nog nooit in die steek gelaat het nie. Daarom is dit met groot jubeling dat ons kan getuig dat ons sedert April 1998 reeds 1 068 000 koerante gratis versprei het! Diegene wat na aan ons leef en bewus is van ons omstandighede, kan saam met ons net in alle ootmoed sê: Dit is net die HERE wat dit kon bewerkstellig!
Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind, laat ons na Hom toe gaan met lof, laat ons Hom toejuig met lofsange, want die Here is die magtige God, die groot Koning oor al die gode. Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper!” (Ps. 95:1-3,6 NV).
- Redaksie

Indeks     Index