MY BEELDHOUER EN EK
  Toe daar eenmaal aan 'n beeldhouer gevra is wat hy uit die stuk marmer gaan kap, het hy gesê: “’n Perd.” Op die verdere vraag hoe hy dit gaan regkry, het hy geantwoord dat hy maar net alles gaan wegkap wat nie perd is nie. So is God ook besig met elkeen van sy kinders. Hy is die groot Beeldhouer en sy werkskamer is toegerus met die beste en grootste verskeidenheid gereedskap. Sy grootste taak is om my ‘n toonbeeld van sy liefde te maak, bv. wanneer is die “regte tyd” om kwaad te word? Wanneer dit sy Koninkryk raak. Nie wanneer ék te na gekom word of in my eer gekrenk is nie. Ek het niks wat geskend kan word nie. Al my goeie dade is “soos ‘n besoedelde kleed” voor Hom (Jes. 64:6).
Ek moet seën en nie vervloek nie. God wil my ‘n pronkstuk vir Hom maak. Wanneer ander my veronreg, moet ek met liefde antwoord. Ek moet ‘n kanaal wees waardeur Hy sy liefde op hulle kan uitgiet. Ek het van nature nie liefde in my nie. Alles wat uit myself is, is vlees wat Hom nie kan behaag nie.
In sy “openingsrede” aan die begin van sy aardse bediening in sy tuisdorp Nasaret, het Jesus in die tempel opgestaan en die boekrol geneem wat aan Hom gegee is. Daarin het Hy die doel van sy Sending gelees (Luk 4:18-19). Jesus het gesê: Hy het My gesalf:

1) “Om die evangelie aan die armes te bring.” Wie is die “armes”? Sekerlik hulle wat geestelik arm is. Hulle wat ‘n behoefte het na die Brood van die Lewe. Jesus sê: “Salig is hulle wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.”
2) “Verbryseld van hart te genees.” Het ander oor jou geloop en jou verbrysel? Jou vertrap? Jou verneder? Jesus is daar om jou te help en totale genesing te bring - ook innerlike genesing en bevryding. Daar diep binne-in jou waar niemand kan sien nie. Vir die pyn in jou het Hy genesing.
3) “Om aan die gevangenes vrylating te verkondig.” Waarvan is jy ‘n gevangene? Het iemand jou te na gekom, en kan jy nie vergewe nie? Dan is jy ‘n gevangene van jou eie onvergewensgesindheid.
4) “Aan blindes herstel van gesig.” Wat maak ons blind? Die balk in ons eie oog?
5) “Om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur.” Jesus maak volkome heel!

Baie negatiewe dinge wat met ons gebeur, laat ons gebroke agter. Gebrokenheid bring gebondenheid. Jesus kom om ons van ons gebondenheid te bevry en ons in vryheid weg te stuur. Hy maak jou los van jou “vlees”, jou menslike reaksie op die negatiewe dinge wat met jou gebeur, wat vir jou gebondenheid meebring en Hy maak jou vas aan sy karakter wat vir jou vryheid meebring. Jy hou nie die letsels van gebrokenheid oor nie, maar die bates! Jy word soos die gekneusde roosknop. Die geur kom uit wanneer sommige blare gekneus word. Of soos die kruik van die vrou wat Jesus se voete gesalf het, gebreek moes word sodat die geur die hele huis kon vul. Só word jy gebreek om SY geur oral te versprei.
As jy nog in gebondenheid lewe, dra jy die seerkry en gebondenheid oor aan ander. Of jy straal die negatiewe van jou nagmerrie-ondervinding uit. Al waaroor jy kan praat, is die nare gebeurtenis. Maar as Jesus jou vrygemaak het, kom sy skoonheid in jou na vore. Hy sê mos Hy het gekom om die gebrokenes in vryheid weg te stuur! Jy is soos ‘n boom wat gesnoei is, wat dan die mooiste vrugte dra. Of soos die roosboom wat gesnoei is, wat die mooiste rose voortbring en ‘n pronkstuk word vir die Tuinier!
Ek dink aan die plaas waar ek grootgeword het. Daar was 'n plek met die naam “Die Wondergat”. Dit word vertel dat gedurende die oorlogsjare (Tweede Vryheidsoorlog) die “Wondergat” vol water was. In ons tyd was dit droog, maar met pragtige natuurskoon, met kranse waar die bome in die rots gegroei het. So wil God hê dat ons in die Rots moet groei. Dan word jy in die Rots geanker en geen storm kan jou uit die Rots uitskeur nie, want jy hou aan die Rots vas en meer nog, die Rots hou jou vas en jy word mooi soos Hy. Word geanker in die Rots!
Bid tot die Groot Beeldhouer: “Kom kap maar alles weg wat nie U beeld is nie, totdat ek aan U Beeld gelykvormig is.”

Indeks     Index