ONS STEL BEKEND...
 

Past. Josua Malan

Die Pinkster Protestante Kerk, Suid-Gemeente het in 1994 van die Sentraalgemeente afgestig en is geleë op die hoek van Van Riebeeck- en Maherrystraat. Die eerste herderspaar was Past. en Mev. Tony Leite.
Twee jaar gelede het Past. Josua en mev. Adri Malan die herderstaf van hierdie gemeente opgeneem. Hoewel die gemeente op 'n laagtepunt was, is Matt. 16:18 weer bevestig: “..op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie”.
Die afgelope tyd het die Here hierdie gemeente buiten-gewoon geseën. Die lidmaattal het meer as verdubbel, alle skuld is afgelos, nuwe matte is gelê, die banke vervang en talle ander verbeteringe ook aangebring. Met die oog op toekomstige uitbreiding is die huis langs die kerk aangekoop.
Almal in die gemeente is opgewonde en koester die verwagting dat die Here nog groot dinge gaan doen.
Hierdie gemeente bied 'n ware tuiste vir pinkstergelowiges wat meer tuis voel in ware Pinksteraanbidding.
Gereelde eredienste (oggend sowel as aand), Sondag-skoolbyeenkomste, gemeente-bidure, broedersbidure, en jeugbyeenkomste word gehou.
Ons is ook baie bevoorreg om 'n emeritus leraar in ons gemeente te hê in die persoon van Past. JR van der Merwe. Hy behartig die spreekkamer en doen berading volgens afsprake. Hy bied ook Bybelstudie in die gemeente aan.
Die Bybelstudie word deur talle mense uit verskillende kerke bygewoon. Sy rype ervaring van baie jare in die bediening en sy diepe kennis van die Woord van die Here is van onskatbare waarde vir almal wat die Bybelstudie bywoon.
In hierdie gemeente glo ons dat ons nog in die dae leef waarvan die profeet Joël gespreek het en gesê het dat God Sy Gees sal uitstort op alle vlees. Ons het 'n wonderlike Pinkstererfenis wat ons graag ten alle koste wil bewaar. Nie alleen bid ons vir 'n magtige herlewing, (wat in ons tyd so nodig is nie) maar ook dat God Sy Gees opnuut sal uitstort.
Ons besef dat ons die roeping van Matt. 28 :19 alleenlik kan nakom wanneer ons dit doen in die volheid van die Heilige Gees. Daarom is ons boodskap “TERUG NA PINKSTER”. Dit is ons toekomsvisie!
MARANATA, JESUS KOM WEER!

Indeks     Index