GRYP DIE DAG!
  Die mens kan hom soms so verknies oor beuselagtigheidjies. In die proses stap die tyd aan en die kanse gaan verby - soos die digter sê: “Met die water wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie.” Jy versuur jou lewe oor ander se welvaart, sonder om jouself af te vra wat dit hom dalk kos. Jy is jaloers op ander se prestasies sonder om te bereken watter opofferings dit van hom geverg het. Jy maak jou sielsongelukkig oor ‘n paar plooitjies op die gesig, of ‘n ekstra vetjie hier en daar, terwyl ander vrede moet maak met ‘n ongeneeslike siekte wat hul liggaam, eens net so mooi soos joune, brokkie vir brokkie verteer. Jy beny ander hul flinke brein, terwyl daar duisende is wie se beheersentrum heeltemal onklaar geraak het. Jy raak ongeduldig as jy moet toustaan, terwyl honderde ander nie meer bene het om op te staan nie. Jy raak iesegrimmig omdat jou maaltye nie betyds opgedien word nie en vergeet dat daar duisende is wat nie ‘n maaltyd het om by aan te sit nie. Jy kla oor die koue en kla dan oor die hoë elektrisiteitsrekening, en vergeet die miljoene wat nie net ‘n knoppie kan druk om die koue uit hulle lywe te verdryf nie. So kla en mor en murmureer en verknies ons onsself daagliks só oor beuselagtighede dat ons nie meer raaksien wat ons het en wat ons in elk geval nie verdien nie. Die glans van dit wat ander besit, het ons oë so verdof dat ons die blink van ons eie gawes nie meer raaksien nie - totdat dit van ons weggeneem word... Vat jou oë weg van andermansgawes en sien jou eie raak! Of dit een talent of vyf is, dit is joune. Vir jou gegee om te gebruik! En dit wat jy het, sal meer word. Gryp die dag en wees gelukkig en tevrede met dit wat jy ontvang het. Jy het dit in elk geval nie verdien nie. Dis ‘n genadegawe! Of, begrawe dit... en verloor dit!

Indeks     Index