"WOON DIE HERE HIER?"
  Dit was ‘n klein, vervalle ou plaashuisie met ruim, maar verwaarloosde werf en ‘n paalomheining wat nooit geverf is nie. ’n Vreemdeling kom die stofpad afgestap, maak die hekkie oop, stap na die deur en klop. Die boer se vrou maak oop. Sy het ‘n naburige vriendin verwag, maar dis ‘n vreemdeling. Hy vra, “Woon die Here hier?”
Sy is so van stryk gebring dat sy hom net aangaap. Weer vra die man: “Woon die Here hier?” In haar verwarring kan sy nou nog minder antwoord. Sy klap die deur toe en vlug by die agterdeur uit. Die man stap kopskuddend weg.
By die waenhuis vertel sy haar man van die eienaardige vreemdeling. Hy vererg hom en raak ‘n paar onvriendelike woorde kwyt. Dan vra hy: “Het jy hom nie gesê ons behoort aan ‘n kerk nie?”
“Nie eintlik nie. Dis nie wat hy gevra het nie.”
“Het jy hom nie vertel ek is ‘n diaken en jy werk hard in die vrouevereniging nie?”
“Dis ook nie wat hy gevra het nie.”
Hulle besin saam oor wat dit alles kan beteken, en kom geleidelik tot die eerlike oortuiging dat hulle huislike lewe nie van so ‘n aard is dat die Here daar kan woon nie.
- Skrywer onbekend

Indeks     Index