BESEF JULLE WAT GOD VIR JULLE GEDOEN HET?
  Omdat julle vroeër in sonde geleef het en aan God ongehoorsaam was, was julle geestelik dood. Die sonde wat deel is van hierdie wêreld het julle lewenspatroon geword. Julle het julle laat lei deur die Satan, die leier van al die onsigbare bose geeste. Dit is hy wat nog al die tyd werk in almal wat God nie gehoorsaam nie. Ons het almal vroeër so gelewe. Ons het toegegee aan ons sondige drange, en enige verkeerde begeerte wat in ons gedagtes of ons verbeelding opgekom het, het ons gedoen. Ons het dieselfde menslike geaardheid gehad as alle ander mense, en dit kon net lei na die ewige straf.
MAAR God se genade en liefde is baie groot. Selfs toe ons nog geestelik dood was in die sonde het Hy ons saam met Christus lewendig gemaak. Daarom is dit net deur sy goedheid dat Hy ons gered het. Hy het ons met Christus Jesus verbind sodat ons ook saam met Christus uit die dood lewendig gemaak is en saam met Hom 'n ereplek in die hemel gegee is. Wat Jesus Christus vir ons gedoen het, wys vir ons hoe goed God vir ons is. Dit sal vir altyd die bewys bly van hoe oneindig groot God se liefde vir ons is. Dit is net omdat God vir ons so goed is dat Hy ons gered het. Ons kon onsself nie red nie, maar God gee dit vir ons verniet as ons op Jesus Christus vertrou. 'n Mens kan nie gered word deur iets wat jy self doen nie en daarom is dit nooit jou eie prestasie waaroor jy kan spog nie. Onthou, dit is God wat ons gemaak het, maar Hy het ons ook 'n nuwe lewe gegee as gevolg van wat Jesus Christus vir ons gedoen het. Sy doel met hierdie nuwe lewe is dat ons sal lewe soos Hy dit wil hê!
Ek sê nou vir julle uitdruklik wat die Here beveel het: julle moet ophou om te lewe soos mense wat nog nie van die Here gehoor het nie. Hulle gedagtes is net op nikswerd dinge ingestel, en dit is al wat daar in hulle lewe is. Oor hulle verstand bly die donker hang, en hulle is ver van die nuwe lewe wat God ons wil gee. Omdat hulle hul nie wil laat oortuig nie, kan hulle hierdie dinge ook nie verstaan nie. Hulle het nie meer 'n gevoel vir wat reg of verkeerd is nie en het hulself oorgegee aan uitspattigheid. Van onsedelikheid kry hulle nooit genoeg nie.
Kyk hoe gans anders is alles wat julle oor Christus geleer het. Julle het van Hom gehoor, en julle het sy volgelinge geword. Dit is slegs as 'n mens aan Jesus Christus behoort dat jy by die waarheid uitkom. Daarom kan julle nie aanhou met lewe soos vroeër nie. Soos ou klere wat 'n mens uittrek, moet julle die ou geaardheid opsysit, want daardie geaardheid word rond en bont gesleep deur slegte drange en is op pad na vernietiging. Julle moet 'n nuwe gesindheid en 'n nuwe manier van dink kry. Julle moet die nuwe geaardheid en die nuwe lewe julle eie maak soos nuwe klere wat 'n mens aantrek. Want God het self die nuwe lewe gemaak sodat dit soos sy eie lewe kan wees, werklik opreg en heilig. Moenie die Heilige Gees wat God julle gegee het, bedroef nie. Hy is die stempel wat God op julle afgedruk het om te wys dat julle aan God behoort. Dié stempel bly op julle tot die dag wanneer ons finaal en volkome verlos sal wees van die sonde.
(Efésiërs 2:1-10; 4:17-24, 30. Die Lewende Nuwe Testament - ‘n parafrase, CUM, 1978).
Geborg: Lemon Blossom Guest House, Kerkstraat 4, Potchef-stroom, Tel. (018) 297 1137 of Sel 082 856 2410.

Indeks     Index