CHILD EVANGELISM FELLOWSHIP: SOUTH AFRICA
  Matteus 18:14 “So is dit ook nie die wil van julle Vader in die hemel dat een van hierdie kleintjies verlore moet gaan nie.”

Die redding van ons kinders is vir God van kardinale belang. Toe Jesus vir Petrus gevra het of hy Hom liefhet (Johannes 21), het hy heel eerste op Petrus se antwoord vir hom beveel om sy lammers (kinders) te laat wei. Petrus het geweet dat kinders vir God belangrik is. Hy het verseker nie die Here se vermaning (Matteus 19:13-15) vergeet toe hulle die kindertjies weggejaag het nie.
Dank die Here dat daar vandag nog mense is wat die belangrikheid van kinders in die Koninkryk van God besef. Een so ‘n getroue volgeling van Jesus se getuienis, is vir ons almal ‘n aansporing tot gehoorsaamheid en volharding. Haar naam is suster Caroline. Sy hou al oor die dertig jaar Goeie Nuus Klubs in Eldoradopark as vrywillige werker saam met Child Evangelism Fellowship. Vele kinders het deur haar hande by die Here Jesus Christus uitgekom. Op ‘n dag het daar by haar huis ‘n man saam met ‘n meubelwa aangekom. Hy het gevra of sy hom kan onthou. Sy kon hom op daardie oomblik nie plaas nie. Hy het haar vertel dat sy hom na die Here toe gelei het in haar Goeie Nuus Klub toe hy ‘n kind was. Hy het haar verder meegedeel dat hy nou ‘n Pastoor van ‘n groot gemeente is en net vir haar wil kom dankie sê dat sy hom na die Here toe gelei het. Hy het vir haar ‘n sitkamerstel present gegee.
Suster Caroline is nou al baie oud en sieklik. Hoewel sy so siek is en sterwend op haar bed lê, is sy nog steeds getrou aan haar roeping. Sy laat kinders om haar bed staan en met moeite vertel sy hulle van die Here.
Toe ons haar besoek het, was sy baie siek en het net gelê. Daar is vir haar gebid en belowe dat daar ‘n foto van haar geneem sal word. Twee dae later het sy baie beter gelyk en self na die bank gestap vir die foto. Bid saam met ons dat die Here waarlik sal onderneem vir hierdie getroue kind van Hom. Child Evangelism Fellowship is besorg oor ons kinders. Ons is ‘n geloofsorganisasie wat die kerk ondersteun om die kind met die Evangelie te bereik. Ons spits ons veral toe op die onbereikte kind en is in Suid-Afrika werksaam sedert 1947.

Hoe kan ONS van hulp wees?

CEF wil u graag help om die kinders in u eie gemeenskap te bereik met die Goeie Nuus van Jesus Christus. Ons doen dit deur:

Ø Doeltreffende opleiding te bied: Kursusse is daarop gemik om die kind te evangeliseer en geestelik te laat groei ná bekering.
Ø Uitreikgeleenthede wat ‘n verskil kan maak. Dit is ideale geleenthede vir gemeentes om betrokke te raak met die bereiking van ons kinders.
Ø Kwaliteit onderrigmateriaal: Bybelgefundeerde 5-jaar sillabus en ander literatuur, verseker dat kinders van kleins af uitgedaag word om daders van die Woord te word.

Hoe kan JY betrokke raak?

Ø Raak betrokke by die bereiking van kinders in jou woongebied.
Ø Word opgelei in effektiewe uitreikmetodes na kinders. Ø Bid op ‘n gereelde grondslag vir hierdie Bediening. Ø Ondersteun CEF finansieel.
Ø Word ‘n vrywillige of voltydse werker saam met CEF.
Indien u enige navrae het, kan u gerus vir ds. David van Heerden skakel by tel. (018) 293 0860 of kontak hom by sy e-posadres: cefsa@absamail.co.za

Indeks     Index