JULLE HET SO GOED BEGIN...
  Ds. Janneman van Wyk
Elgrow Gemeente Potchefstroom


“Is julle dan so sonder begrip? Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig?” (Gal. 3:3).
1. Julle het met die Gees begin... Niemand kan sê dat Jesus die Here is sonder die Heilige Gees nie. Elkeen wat bely dat Jesus Christus sy persoonlike Ver–losser is, het die Heilige Gees inwonend in sy lewe. Die Heilige Gees wil nie net inwo–nend wees nie, maar totaal in beheer van jou en my lewe.
2....wil julle nou in eie krag eindig? Die 1933-vertaling vra: “Wil julle nou eindig met die vlees?” Die NIV vra: “Are you now trying to attain your goal by human effort?” Dit is een van daardie onmoontlike moontlik-hede en is juis die rede waarom Paulus so ontsteld was.
3. Redes waarom ‘n mens so goed begin en dan agteruitgaan op sy geestelike pad.
a) Toelating van doelbewuste sondes. Ons begryp nie altyd dat die God wat in 1 Pet. 1:16 sê: “Wees heilig, want Ek is heilig” dit regtig bedoel, omdat Hy sonde glad nie kan hanteer nie. Daarom praat die Gees onmiddellik met ons in geen onduidelike taal nie. Sou ons Sy stem ignoreer, bedroef ons die Heilige Gees en verdoof ons Sy stem deur ons ongehoorsaam–heid. Hoe langer ons met sonde voortgaan, hoe minder pla dit ons. Dis asof die oneerlike besigheid, waarvan jy so bewus was aan die begin, nie meer so erg is nie. Die buiteegtelike verhouding en saambly was eers vreeslik erg, maar nou maak dit nie meer saak nie. Die vlees dikteer nou jou lewe.
b) Jy het moeg geraak om in die worstelstryd waarin die ge–lowige betrokke is, tot die einde toe te volhard. “Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie” (Matt. 10:38). “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg” (Matt 16:24). “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie” (Luk. 9:62).
Roy Hession het gesê: “ If we are content with our present Christian life, if we do not desire with a desperate hunger to get onto the highway, we shall never get to our knees and thus never climb the hill.” Om hierdie groeipad, heiligmakingpad te bewandel, is pynlik, vra baie selfbeheersing en kos jou alles: besittings, tyd, plesiere en bo alles, jou “ou mens”! Vir baie is die koste te hoog. Hulle besef nie dat daar nie kitsoplossings is nie. Dit kos vasbyt om die wenstreep te behaal!
c) Mense weet wat God verwag, maar probeer vanuit menslike pogings leef.
Die Galasiërs het teruggeval op die werke van die wet. Hulle het probeer om God te dien uit eie krag. Dit het op mislukking uitgeloop. Dikwels wag ons nie op die Here om te doen waar–voor ons geroep is nie, en doen dit op ons eie manier. Dan staan die Gees van God eenkant en is die mens besig om die Here se werk deur sy vlees tot volmaking te probeer bring. My menslike natuur, wil, en inspanning kan baie bedrywig wees in “godsdiens” en ek probeer om God in eie krag te dien.
4. Die weg tot herstel
a) Ons moet teruggaan na die plek waar ons die Gees van God aanvanklik die beheer oor ons lewens gegee het en dan gaan kyk na waar ons doelbewuste sonde in ons lewens toegelaat het. Bely dit...en breek daarmee. Vra die Heilige Gees om weer Sy stem duidelik te hoor.
b) As jy moeg geword het om te volhard, moet jy weer jou somme gaan maak en die koste bereken vir jou keuse. Wees dan net ten minste eerlik met jouself. Wees eerder koud of warm, maar as jy lou is, sê Openbaring, sal God jou uit sy mond spoeg. Die Gees van God wil sy krag tot jou beskikking stel...gebruik dit!
c) Wees eerlik en ondersoek jou motiewe waarom jy die Here dien. Is dit miskien moontlik dat jy jou eie reëls en wette gemaak het waarvolgens jy die Here dien? Vra weer na die wil van die Here en doen wat Hy vra.
Laat ons ons hoofde in skaamte buig en voor God bely dat ons vleeslike godsdiens, ons selfinspanning en ons selfvertroue die oorsaak is van elke mislukking in ons lewe!

Indeks     Index