HEMEL EN HEL - 'N WERKLIKHEID?
 

DIE HEMEL

Wanneer ons oor die hemel nadink, sal ons dalk almal saamstem dat dit ‘n wonderlike plek moet wees. ‘n Plek waar almal in ewige geluksaligheid vir ewig sal saamwoon. Die detail van die hemel verstrengel ons egter, want hoe meer ons daaroor nadink, hoe meer vrae ontstaan. Hoeveel hemele is daar? Is daar sewe hemele, drie of slegs een? Waar is die hemel? Baie wanbegrippe ontstaan wanneer ons self, in ons eie denke, antwoorde soek. Ons behoort na die Skrif te gaan om ons vrae op te klaar.
Die hemel is ‘n plek “daarbo.” Die Skrif leer ons dat Jesus “opgeneem is in die hemel” (Hand. 1:11). Ook dat Elia “in die storm na die hemel opgevaar het” (2 Kon. 2:11). Paulus skryf: “Ek weet van ‘n man in Christus... dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel” (2 Kor. 2:11).
Die hemel is ‘n plék, nie ‘n “toestand” nie, ook nie iets in die verbeelding van ‘n mens nie. Dit is ‘n werklike plek - so werklik dat Jesus daarvan melding gemaak het (bv. Matt. 6:20).
Die Nuwe Jerusalem is nie die hemel nie, maar die “heilige stad” wat Johannes uit die hemel sien neerdaal het (Openbaring 21:2).
Ons lees in Heb. 11:10 dat Abraham uitgesien het na hierdie stad: “Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.” En ons, die gelowiges, is ook op soek na daardie stad (Heb. 13:14).
Die Skrif praat van drie hemele:
1. Die lug of aarde se atmosfeer, oftewel die atmosferiese hemel. Hand. 14:17: “...al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.” As daar geskryf staan “voëls van die hemel” (Gen. 2:19; 7:3, 23; Ps. 8:8), is dit híérdie hemel wat ter sprake is. Die lug bokant ons. Daar waar die wolke sigbaar is.
2. Die sterrehemel en die woonplek van “die bose geeste in die lug” (Efésiërs 6:12).
3. Die “Derde Hemel”, die woonplek van God; ook bekend as die Paradys (2 Kor. 12:1-4). Paulus noem dit die “derde hemel” en ook “die Paradys” waarheen hy weggeruk is. Dit het waarskynlik gebeur toe hy gestenig is en vir dood agtergelaat is (Hand. 14:19-20). Hierdie Paradys moet nie verwar word met die “Tuin van Eden” in Gen. 2 nie. In Génesis kom die woord Paradys nooit voor nie.

DIE HEL

Net soos die hemel, is die hel ook ‘n werklike plek, en nie slegs ‘n toestand nie:
* Dit is ‘n plek wat brand met vuur en swael (Matt 5:22; Mark. 9:43-49; Jes. 66:24; Openbaring 19:20; 20:10,14,15).
* Daar is pyn, smart en ellende (Luk. 16).
* Dit is ‘n plek sonder genade en sonder water (Luk. 16).
* Dit is ‘n plek waarheen die sondaar gaan vir sy ewige straf (Openbaring 20:11-15).
* Dit is ‘n plek wat God voorberei het vir die duiwel en sy engele (Matt. 25:41).
* Dit is ‘n plek van letterlike vuur wat nie uitgeblus sal word nie (Mark. 9:43,49; Matt. 3:12; Matt. 7:19; Matt. 13:40-50; Matt. 18:8, 25:41-46; Judas 1:7; Openbaring 14:9-11).
Die Afrikaanse Bybel praat byna deurgaans van Hel (Doderyk) m.b.t. die ongelowiges en die Onderwêreld. Ook die King James Version praat meestal net van “Hell”.
Om die Onderwêreld te begryp, is dit nodig om na die oorspronklike tale (Hebreeus en Grieks) waarin die Bybel geskryf is, te gaan. Daar word ‘n definitiewe onderskeid getref tussen die verskillende afdelings in die Onderwêreld:
* Die Doderyk (Hebreeus: Sheol en Grieks: Hades). Dit is Die Onsienlike Toestand of Onderwêreld, wat verdeel is in twee kompartemente: die eerste is die Plek van Pyniging, en die tweede is die Paradysgedeelte. Die Ou Testamentiese gelowiges het ná die dood na die Paradysgedeelte gegaan, en die ongelowiges na die Plek van Pyniging - nog nie die Finale Hel nie, want die Finale Oordeel het nog nie plaasgevind nie. (Verg. Luk. 16). Omdat daar in Luk. 16:19-31 ‘n definitiewe verwysing is na persone met hulle name, is dit ‘n ware gebeurtenis waarna Jesus verwys, en nie ‘n gelykenis nie (‘n gelykenis gee nie name van persone nie). Die Doderyk het poorte (Matt. 16:18), en Jesus het die sleutels van die Dood en die Doderyk gehad na sy opstanding en verheerliking (Openbaring 1:18). Om hierdie sleutels te verkry, moes Jesus neerdaal “in die onderste dele van die aarde” (Efésiërs 4:9).
Die Apostoliese Geloofsbelydenis (soos in baie kerke gelees op ‘n Sondagoggend) sê Jesus het “ter helle neergedaal.” Dit blyk dus dat dit die Onderwêreld in die hart van die aarde moet wees. Hier het Jesus die sleutels van die Doderyk (Hades of Sheol) afgeneem van die vyand, die gelowiges bevry en die Paradysgedeelte verplaas na die Derde Hemel, waar God woon.
Jesus sê ook aan die rower op die kruis: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Lukas 23:43).
Op die dag van die kruisiging het Jesus nie na die hemel opgevaar nie, maar in die graf (Hebreeus: Qeber en Grieks: Mnemeion) gekom en in die Onderwêreld (Hades) neergedaal. Omdat die liggaam van Jesus “nie verder–wing sou sien nie” (Ps. 16:10; Hand. 2:27), beteken dit dat Hy, nadat Sy liggaam in die graf gelê is en Hy Hades besoek het, teruggekeer het van Hades af voordat sy liggaam kon verderf. En Hy het opgestaan uit die dood! Toe Hy die Paradys en die gelowiges daar verplaas het na die Derde Hemel, het Hy die rower op die kruis langs Hom, dus saam met Hom geneem (Verwys Efésiërs. 4:8-10).
* Die Hel (Hebreeus: Tophet en Grieks: Gehenna). Dit is die Finale Hel waarin die Satan en die ongelowiges beland ná God se oordeel.
* Die Bodemlose Put (Grieks: Abussos). Dit word nege keer in die Nuwe Testament vermeld o.a. Rom. 10:7; Openbaring 9:1-2; 9:11; 11:7; 17:8; 20:1-3.
Toe Jesus die demone uit die Besetene van Gadára uitgedryf het, het hulle Hom gesmeek om hulle nie na Abussos te stuur nie, waarop Hy hulle toegelaat het om in die varke in te vaar (Luk. 8:31).
Abussos is ook die bewaarplek van demone (Openbaring 9:1-21) en die plek waar Satan gebind sal word vir 1 000 jaar (Openbaring 20:1-3; 7-8).
* Gevangenis van Gevalle Engele (Grieks: Tartarus). Dit is die plek waar die gevalle engele bewaar word vir die Dag van Oordeel (2 Pet. 2:4; Judas 1:6), en vanwaar hulle die ewige straf deelagtig gaan word in die Hel (Gehenna - Op. 20:11-15).
Opsommend lyk die prentjie so: Dit is duidelik dat daar ‘n werklike plek is soos die Hemel, en ook ‘n werklike plek soos die Hel.
Verder sien ons ook dat Die Onderwêreld uit verskillende afdelings bestaan: Die Doderyk, Die Hel, Die Bodemlose Put en Tartarus. Toe Jesus gesterf het, het Hy neergedaal in die onderste dele van die aarde. Hy het Hades (Doderyk) besoek en die sleutels van die vyand afgeneem. Daarna het Hy die Paradysgedeelte leeggemaak (die Ou Testamentiese heiliges) en verplaas na die Derde Hemel. In die Onderwêreld het Hy ook Tartarus besoek en aan die gevalle engele aangekondig/geproklameer (Grieks: kerusso) dat hulle verdoeming vas is (1 Pet. 3:19).
Wanneer die mens tot sterwe kom, gaan die gelowige na die Paradys (Derde Hemel) en die ongelowige na Hades. Beide is ‘n tussenstaat (nie ‘n sieleslaap of ‘n vagevuur nie, maar ‘n afwagting) totdat die Finale Oordeel plaasvind.
Daarna woon die gelowiges in ‘n verheerlikte staat (na hulle opstanding), vir ewig saam met die Here, en die ongelowiges (na hulle opstanding) vir ewig in die Hel (Gehenna).
Ons is elkeen op pad na een van twee bestemmings: die Hemel of die Hel. Na watter bestemming is u op pad?
Ons het nou reeds aan hierdie kant van die graf ‘n keuse wáár ons die ewigheid wil deurbring. Kies Jesus vandag en neem Hom aan as jou Persoonlike Saligmaker (Joh. 1:12-13): “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.”
Kry só sekerheid dat jy ‘n kind van God is (Joh. 3:36; 1 Joh. 5:12-13). Hierna is dit ‘n blye vooruitsig om die ewigheid saam met Hom deur te bring!

Vir verdere studie, lees:
* Douglas, J.D., e.a.; The New Bible Dictionary, (Grand Rapids, Michigan: Eerdmans) 1975.
* Enhanced Strong’s Lexicon, (Oak Harbor, WA: Logos Research Systems, Inc.) 1995.
* John F. MacArthur, Jr., The MacArthur Study Bible, (Dallas: Word Publishing) 1997.
* Kittel, Gerhard; Theological Dictionary of The New Testament Vol. 1, (Grand Rapids, Michigan: Eerdmans) 1974.
* Larkin, C.; Rightly Dividing The Word, (Philadelphia: Erwin W. Moyer) s.j.
* Vine, W.E.; Vine’s Expository Dictionary of New Testament Words, (Massachusetts: Hendriksen) s.j.
* Wuest, Kenneth S., Wuest Word Studies Vol. 3, (Grand Rapids, Michigan: Eerdmans) 1974.
(Saamgestel deur JJ Venter).

Indeks     Index