NET BY GOD VIND EK RUS...
  Amanda Lotz

Agt jaar gelede was ons nog ‘n normale, gelukkige huisgesin. Maar op 24 Julie 1993 is ons hele lewe as’t ware aan flarde geruk toe ons begaafde en geliefde seun sy eie lewe geneem het. En ons was onbewus van die verwoestende endogene depressie wat hom van binne stelselmatig wou vernietig! As iemand destyds vir my sou sê dat ek weer ‘n normale lewe sal kan lei, sou ek hom hoegenaamd nie geglo het nie. Op daardie stadium van my lewe het ek nog nie self ondervind dat niks by God onmoontlik is nie!
Die groot wonder is dat Hy my geleidelik weer heel gemaak het sodat ek vandag ‘n ryper, sappiger vrug aan Sy Boom kan wees. ‘n Nuwe lewe met baie meer dimensies. Dit alles is net die werk van God. Genade onbeskryflik groot!
Ek kan met my hele hart getuig: “Hy laat alles ten goede meewerk vir diegene wat Hom liefhet” (Rom. 8:28). Maar die troos wat ek ontvang het, mag ek nie vir myself hou nie. Dit moet deurgegee word aan andere. Soos ek bemoedig is, moet ek ander bemoedig om so gestalte te gee aan 2 Kor. 1:4.
Daarom het ek onder leiding van die Heilige Gees ‘n boek geskryf om verslae bedroefdes te troos- om die vlam van hoop weer aan te steek. “Deur Water en Vuur na Oorvloed” is ‘n troos- en hulpboek vir almal wat in traumatiese omstandighede verkeer, hetsy die selfmoord van ‘n geliefde, verlies van ‘n lewensmaat, ens.
Soos vir my, sal Hy ook u rouklere uittrek en vir u feesklere aantrek! “Here my God, vir altyd sal ek U loof!” (Ps. 30:13).

Vir hulp en troos, kan u my skakel
by (018) 468 2831 of skryf aan
Amanda Lotz, Posbus 67,
Klerksdorp, 2570.


Vervolg 'n Uittreksel uit: "Deur Water en Vuur na Oorvloed"

Soos party blomme net in woestyntoestande groei, so leer ons bepaalde eienskappe van God eers ken wanneer ons ly. As kind van God sal daar storms op my lewensee kom, maar God is by my in die storm. Hy laat my nimmer en nooit alleen nie!
In die angswekkendste oomblikke van my lewe, was Hy by my. Dit het ek eers lank na die tyd besef toe ek die gebeure rondom Dawie se dood oordink het. Die Here het my in ‘n rotsskeur gehou soos Moses in Gen. 33:22. Sy magtige teenwoordigheid is te oorweldigend. Dit sou my vernietig het as ek die volle sterkte van sy krag moes ervaar.
Al was ek kwaad en opstandig teenoor God, bly Hy dieselfde liefdevolle Vader. Hy het begrip vir my bose natuur en Hy verwelkom my altyd weer terug. Soos ‘n rots waarteen die golwe slaan, bly Hy onwankelbaar vas staan, onveranderd deur die eeue. Dit is so in teenstelling met die mens se lewe wat nooit dieselfde bly nie - ons gaan voor- of agteruit.
God noem Homself “Ek is”. Dit beteken Hy is konstant en aanhoudend altyd daar. Daar is geen ruimte of tyd waar Hy nie is nie. God se tyd is meestal nie ons tyd nie. So kan ons sy stilswye verkeerdelik as verwerping interpreteer. Ons hou nie daarvan om te wag nie en dan raak ons ongeduldig. Tog het Hy altyd ‘n doel daarmee. Jaïrus se dogtertjie en Lasarus het byvoorbeeld altwee gesterf voordat Jesus daar aangekom het. Te laat, sou ons dink, maar daardeur het Jesus ‘n groter wonder gedoen deur hulle uit die dood op te wek. Deur ons te laat wag, toets die Here ons geloof. Abraham moes jare wag voor hy die beloofde kind (Isak) van God ontvang het.
My veranderde lewe het spanning en onsekerheid meegebring. In my verwardheid soek ek na sekuriteit, iets of iemand wat dieselfde bly, stabiel en vas. Daardie Een is God alleen.



Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand... (Jer. 18:6).

Indeks     Index