ONS STEL BEKEND: NG Kerk Klerksdorp-Wilkruin
  Ds. Jan van Heerden

Waarvandaan?
Die storie van hierdie gemeente begin 21 jaar gelede. La Hoff- gemeente het te groot geword en 150 gesinne uit Wilkoppies en La Hoff, die Noordelike voorstede van Klerksdorp, het afgestig in Aug. 1980. Die stigting van hierdie nuwe gemeente was 'n uitvloeisel van die uitbreiding van die dorp. Tog glo ons dat dit deel van God se plan was om Sy Koninkryk te bou. As ons dus die vraag moet antwoord “Waarvan-daan?” sou ons dit moet antwoord met 'n belydenis van “Deur God geroep en gevestig!” Dieselfde maand is die eerste baba gebore en die eerste huis voltooi en so het die gemeente saam met die dorp 'n groeityd beleef van tot oor die 400 gesinne. Vandag bestaan die gemeente uit net meer as 300 gesinne en beskik oor 'n doelmatige kerkgebou asook kategeselokale.
Ds. Jan van Heerden is as eerste leraar beroep en is steeds in die gemeente werksaam. Vir 10 jaar het die gemeente twee leraars gehad, en was ds. Fanie Smit ook leraar in die gemeente.
Nadat die medeleraar weg is, is daar besluit om net met een leraar voort te gaan en self baie van die verantwoor-delikhede in die gemeente te behartig.

Waarheen?
Om 'n stuk geskiedenis weer te gee, is maklik. Om egter in die toekoms te probeer kyk onder die huidige om-standighede, sou baie mense as onverstandig beskryf. Die gemeente Wilkruin kyk egter na die toekoms met groot opgewondenheid. As gemeente van die Here is daar 'n vaste wete dat ons nog steeds ge-roepe is om 'n rol in Sy Koninkryk te speel.
Om tot hierdie duidelike wete te kom, moes die gemeente worstel met die vraag: “Wat is dan nou die roeping van God vir hierdie stukkie van die Liggaam van Christus?” Aan die een kant is dit sekerlik maar presies dieselfde as alle ander gemeentes. Tog glo die gemeente dat hulle ook 'n besondere rol in die Kerk, gemeenskap, stad, en samelewing kan speel. Die droom of visie van hierdie gemeente is: Om God in Gehoorsaamheid, met Oorgawe te Dien. Ons glo die rol van die gemeente is om die wil van God te soek en in gehoorsaamheid daarvolgens te lewe. Om daarmee saam ook die wil van God te verkondig in en buite die gemeentekring. Die lewe van die gemeente moet ook al meer en meer gekenmerk word deur 'n gees van oorgawe. Dit is nie 'n las of selfs 'n plig nie, maar 'n roeping wat voluit en met groot vreugde nagejaag moet word. Derdens is die droom dat alles wat deur die gemeente gedoen word, die karakter van diens behoort aan te neem. Die gemeente is daar om mekaar, die Kerk in breër verband, en die gemeenskap te dien vanuit die wete dat hulle bo alles in diens van God staan.
Wanneer die gemeente met groot opgewondenheid hierdie maand hulle 21ste verjaarsdag vier, sal dit eerstens en laastens met 'n gees van dankbaarheid moet wees. Ons kan jubel oor wonderlike lidmate en spog met baie aksies wat plaasvind, maar as 'n mens in eerlikheid alles wil saamvat, sou ons sê:
“Aan God alleen die dank en die eer, dat Hy ten spyte van sondige mense se klein pogings, tog steeds Sy Kerk bou en in stand hou, ja ook hier in Klerksdorp-Wilkruin.”

Indeks     Index