BESEF JY WAT AAN DIE GANG IS?
  Die sondvloed in die tyd van Noag was ’n direkte uitdrukking van God se haat en woede teen sonde (Gen. 7:17-24). Dit was ook tekenend van die toekomstige wraak van God oor die mensdom aan die einde van die wêreld voor die Wederkoms van Christus (2 Pet. 3:5-9).
“In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het nie. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word” (Matt. 24:38-42). Jesus Christus het die dae waarin Noag geleef het, vergelyk met die dae waarin die geslag sal leef voor Sy wederkoms.
Die mense in die dae van Noag was selfversekerd (het geen gebrek geken nie) en het genoeg aardse sekuriteit gehad. Hulle was traak-my-nie-agtig en houtgerus, het die lewe geniet en alles gehad wat hulle harte begeer het!
Noag het probeer om hulle te waarsku dat God van hulle verwag om te breek met sonde en die genot van die wêreld en om hulself voor Hom te verootmoedig.
Maar hulle het hulle nie aan die waarskuwings gesteur nie! Hulle was so besig om te LEWE dat hulle nie tyd gehad het om te dink aan die toekoms en naderende gevaar waarteen Noag hulle probeer waarsku het nie. Vandag leef ons steeds soos in die dae van Noag: al die tekens van die eindtyd is daagliks besig om voor ons oë af te speel. Hierdeur probeer God ons waarsku dat Hy op die punt staan om weer wraak uit te oefen op 'n sondige en goddelose wêreld.
Daar is net een manier om die wraak van God vry te spring - draai weg van sonde, ongehoorsaamheid en rebellie in jou lewe en soek die guns van God bo die guns van mense (Matt. 9:13; Lukas 5:32).
Ware bekering bring mee dat jy van gedagte sal verander en berou kry oor wat verkeerd is in jou lewe; dat jy die toestand van jou lewe voor God sal bring, jou voor Hom verootmoedig en alle sondes in jou lewe sal aflê. Dit beteken dat jy nie meer dieselfde pad sal bewandel as voorheen nie, maar in die teenoorgestelde rigting sal stap!
Daar is ’n spesifieke dag en uur vooraf deur God bepaal waarop Hy Sy wraak en oordeel oor die wêreld sal bring.
IS JY GEREED EN SEKER DAT GOD JOU SAL BESKERM?
Alet Schutte Tel: +2718 297 3484

Indeks     Index