BET-EL OF BET-AVEN?
  In die Ou Testament vind ons die verhaal van Jakob waar hy op pad was na sy oom Laban. In die veld het hy 'n plek gevind waar hy die nag oorgebly het. Hy raak toe aan die slaap met 'n klip onder sy kop as kussing. Daarna het hy 'n droom gehad waar hy 'n leer gesien het met sy spits tot in die hemel, terwyl die engele van God op- en afklim. Die Here het bo-aan die leer gestaan en met hom gepraat oor sy missie. Toe Jakob wakker word, was hy vreesbevange en het uitgeroep: "Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as die huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel." En hy het die plek Bet-el genoem, wat beteken "huis van God". Hy het toe daar 'n verbond met God gesluit, 'n gedenksteen opgerig en gesê dat hierdie plek "huis van God" sal wees (Gen. 28:11).
Baie jare later leer die geskiedenis ons dat Dawid koning geword het na Saul, toe weer sy seun Salomo, en weer sy seun Rehàbeam. Hier het die volk se afvalligheid van God reeds ver gevorder. Die Ryk het geskeur. Tien stamme skei hulle af van Rehàbeam en vorm die Suidelike Koninkryk onder Jeróbeam (1 Kon. 12). Jeróbeam was bevrees dat die volk sou terugkeer as hulle een gemeenskaplike tempel in Jerusalem sou hê (Noordelike Koninkryk). Daarom het hy twee goue kalwers opgerig en vir die volk gesê: "Julle het lank genoeg Jerusalem toe gegaan, Israel; hier is nou die beelde van julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het" (1 Kon. 12:28). Jeróbeam het die een beeld in Bet-el opgestel en die ander in Dan. Die volk het daardeur in nog groter sonde verval en nog verder van God afvallig geword.
In Hoséa 4 en 10 kom hierdie heilige plek, nl. Bet-el, wéér ter sprake. Hierdie keer word melding gemaak van 'n naamsverandering: Nou word die plek nie meer Bet-el (Huis van God) genoem nie, maar Bet-Aven, wat beteken: "Huis van Niks" (Verskeie kommentare: "House of naught", "House of vanity", "House of nothingness"). Hoe het dit verander! Hoe het die volk agteruitgegaan en afvallig geword! Hoe maklik kan dit gebeur, selfs vandag nog!
Hoe maklik gee ‘n gelowige dikwels sy beginsels prys, en voor hy hom kom kry, het hy die heiligste van God, sy Bet-el waar God Self teenwoordig is saam met Sy heilige engele, verruil vir Bet-Aven! “Huis van God” word verruil vir "Huis van Niks"! Laat ons standvastig bly in ons verhouding met die Here! Bly by jou beginsels en moet niks daarvan prysgee of kompromittteer nie! Hou vas aan die Here en aan Sy Woord!

Indeks     Index