GENESING -
GOD SE GENADE
  Vroeg November 2001 is ek opgeneem in die Anncron Kliniek in Klerksdorp met ’n virus wat my linkernier, galblaas en lewer aangeval het. Ek moes oneindige pyn verduur. Na ongeveer ’n maand van vele ondersoeke en toetse het die dokters uiteindelik uitgevind wat hierdie virus is. Dit word die Sitomogaal-virus genoem.
Hierdie virus is uit Afganistan afkomstig en duisende mense sterf jaarliks hieraan. Dit val een van jou organe aan, wat dan verhard. Die orgaan kan nie funksioneer nie en ander organe word ook vergiftig. Na verskeie behandelings en ’n groot operasie is ek middel Desember uit die hospitaal ontslaan, wetend dat hierdie virus nog aktief in my liggaam was, maar dat die medikasie dit onderdruk het.
Einde Januarie 2002 het ek ’n terugslag gehad. Pyn het weer my hele liggaam deurtrek. Ek kon nie sit, staan of lê nie. Die pyn was net te veel! Die dokter het my meegedeel dat die virus my linkernier weer aanval en dat ek dadelik na ’n nier-hospitaal in Pretoria moes gaan.
Die dag nadat ek die dokter gespreek het, het kerkleiers my kom salf. Dit was inderdaad ’n wonderlike dag. Hulle het hul hande op my maag geplaas en begin bid. Die krag van GOD was fenomenaal! Nadat hulle klaar gebid het, het ek opgestaan met GEEN pyn nie!
Om myself gerus te stel, het ek op 14 Maart 2002 my dokter weer gaan spreek. Toe hy my sien, was daar verskillende reaksies. Bekommernis, want hierdie siekte kon my dood beteken, gemeng met verbasing omdat ek nie van pyn gekruip het tot in die spreekkamer nie! Ek het na hom gekyk en gesê: “Dokter, ek kom vir jou sê dat ek gesond is! Al wat ek wil hê jy moet doen, is dit bevestig.” Nou was hy éérs verstom. “Hoe is dit moontlik?” het hy gevra.
Ek het hom gevra of hy aan “GEBEDSGENESING” glo. Sy antwoord: “Ek het al daarvan gehoor, maar dit nog nie self beleef nie.”
Tydens sy ondersoek het hy vrae gevra oor my geloofslewe. Ek het vir hom gesê dat ek nie regtig ’n baie vurige kind van God was tot die dag van my genesing nie, maar dat ek ’n belofte aan God gemaak het dat as Hy my sou genees, ek my hele lewe aan Hom sou toewy en almal van SY GENADE sal vertel! Na die ondersoek en bevestiging van my genesing, het hy na my gekyk en gesê: “Elize, medies gesproke moes jy nie vandag hier sit nie. Ons het alles medies moontlik gedoen om jou gesond te kry, en NIKS het gewerk nie. As hierdie die stap is wat ons as mediese praktisyns moet neem om genesing te verseker, dan moet ons dit begin doen!
Ten spyte van die lou lewe wat ek gelei het, het GOD nie moed opgegee nie - al het ek self moed opgegee! GROOT IS DIE GENADE VAN GOD VIR DIEGENE WAT HOM AANROEP!!!
Elize Jordaan Tel: +2718 464 6610 (w) of Sel:+2783 792 5314

Indeks     Index