SEUN VAN GENADE
 
Tersia Botes (+2783 785 4149)
Ons lewensverhaal begin in 1997 toe ek en Jacques mekaar ontmoet het. Ek het gevas en gebid en vir die Here gevra om vir my die regte lewensmaat te stuur. Dieselfde maand het ek Jacques ontmoet, sonder om te besef dat hy my man sou word. Eers was ons net goeie vriende, maar 20 maande later is ons getroud (Okt. 1998). Met ons eerste huweliksherdenking het ons besluit om met 'n gesin te begin aangesien ek reeds 29 was. Binne 6 weke was ek swanger en het 'n wonderlike 9 maande gevolg. Ons het besluit om ons meisiekind Elisma te noem. My vol 40 weke het aangebreek sonder dat ek self in kraam gegaan het. Ons het die oggend 'n afspraak by die ginekoloog gehad en gegaan met die wete dat ek heel waarskynlik 'n induksie sou kry en ons
Die Tersia, Jacques en klein Dewald Botes
  binnekort ons baba in ons arms sou hou. Maar niks het ons voorberei op die skok en pyn wat vir ons voorgelê het nie! Die dokter het die sonar gedoen en daar moes ons hoor dat ons dogtertjie se hartjie nie meer klop nie; sy is heel moontlik die vorige nag reeds dood! Geen woorde kan beskryf hoe 'n mens voel nie. Jou hele wêreld word onder jou uitgeruk! Die gevoel van onwerklikheid, die "waarom" en "hoe". Maar die Here is liefdevol en getrou. Toe ons by die spreekkamer uitstap, het die woorde van 'n ou lied by my opgekom en ek het dit net saggies begin sing: "Die vrede wat Christus gee, ervaar ek nou in my gemoed; 'n soete vree 'n stille vree, wat net Hy vir my kan gee." Die Here het my gevul met 'n kalmte en wete dat Hy in beheer is. Dit het niks verander aan die pyn nie, maar ek het besef dat ek aan my Hemelse Vader moes vashou vir krag en kalmte van gees. Die middag is ons dogtertjie met 'n keiser-snee "gebore". Haar pappa het haar sy porselein-poppie genoem want sy was so mooi en fyn soos een. Sy is 5 dae later begrawe. Ons het toe eers uitgevind haar naam beteken "The Lord is my God". Ons het vasgehou aan die wete dat sy veilig by Jesus was.
Hierna moes ons almal probeer om weer rigting te kry. Die seer was permanent en ons het baie trane gestort. Maar die lewe gaan aan en ons moes vorentoe kyk. Ons het besluit om nie lank te wag voor ek weer swanger raak nie. Na 5 maande is ek ginekoloog toe vir 'n ondersoek. Hy het bevind het dat ek nie self weer swanger kon raak nie, want daar was komplikasies. Ons kon egter met medikasie die foute herstel en met vrugbaarheidspille sou ek weer swanger kon raak. Nou was dit wag en wonder. Twee maande later het ek positief getoets en ons was só opgewonde! Maar die volgende week was dit ook verby! Ek is deur twee weke van intense worsteling voor ek weer vrede kon kry. Ons het besluit om eers rustig te raak en te glo dat die Here op die regte tyd vir ons sal voorsien. Dit was nie aldag maklik nie, want ons is ook maar net mense. Ons geloof is in hierdie tyd baie getoets.
Vir Elisma se eerste verjaardag het ons vir haar 'n grafsteen laat oprig. Dit was vir ons 'n baie traumatiese dag en ek het daar langs haar graffie by die Here gepleit om ons weer te seën met 'n babatjie. Drie weke later het ons gehoor ek is swanger. Ons was van die begin af baie sensitief, veral omdat ek weer behandeling moes ontvang om die swangerskap te behou. Elke keer as ek so siek gevoel het van die behandeling, het ek net vasgehou aan die wete dat die Here ons sou deurdra. Dit het beter gegaan vanaf die 3de maand. Ons was egter deurentyd maar bekommerd. Ek het 'n vakansieskool aangebied vir 250 laerskoolleerlinge en het te veel gewoel gedurende my 30ste week. Daar het ek van pyn inmekaargesak en is die aand in die hospitaal opgeneem. Ons moes keer vir premature kraam siende dat ek infeksie gehad het en die baba dalk nie sou oorleef as hy gebore sou word nie. Dit was baie seer en die rugpyn was party dae baie erg.
'n Mens het baie tyd om te dink as jy so lê en satan gebruik die tyd ook om twyfel in jou te plaas. Hierdie tyd was die grootste toets vir my geloof en Christenskap.
Dit was vir my so kosbaar toe ek een aand hospitaal toe is omdat ons bekommerd was oor min beweging by ons seuntjie. Die ginekoloog het by my kom sit en ek weet die Here het hom gebruik om met my te praat. In 'n neutedop het hy vir my gesê dat ek nie net 'n deel van die swangerskap aan die Here kon toevertrou nie, maar alles vir Hom moes gee. Ek wou egter nog self in beheer bly en kon dus nie die Here die geleentheid gee om sy almag te bewys nie. Na daardie aand het daar 'n kalmte oor my gees gekom. En God was waarlik in beheer!
Die dag toe ek 35 weke swanger was, is ek weer ginekoloog toe vir 'n ondersoek. Alles het goed gegaan met ons seuntjie, maar my swangerskap-suiker het die laaste twee weke onbeheerbaar geraak. Die dokter het my laat opneem in die hospitaal sodat hulle MY kon monitor en insulien kon toedien. Die positiewe hiervan is dat ek deur God se genade wel opgeneem is ter wille van my BABA! Hulle het ook sy hartjie gemonitor en net nadat ek klaar geëet het, het die dokter ingekom en gesê: "Ons opereer dadelik! Die masjien wys die baba is in nood."
Binne 'n paar minute is ons seuntjie, Dewald, met 'n spinale keisersnee gebore. Die oomblik toe ek daardie eerste huilgeluidjie hoor, kon ek net self huil van blydskap. Daar was nog nooit so 'n mooi geluid nie! Dit is die grootste geskenk wat God ons kon gee! Dat die Here my swangerskap-suikersiekte kon gebruik om te toon dat die baba in nood was, was 'n wonderlike bewys daarvan dat ons 'n God van liefde dien!
Dewald is dadelik weggeneem na die hoësorgeenheid. Hy kon nie self asemhaal nie en is dadelik aan masjiene gekoppel. Dit breek jou hart as jy die klein lyfie gekoppel sien aan al die masjiene. Daar is vanuit alle oorde vir hom GEBID.
God is die groot Geneesheer en ons moet Hom vra wat ons hartsbegeertes is. Dewald was vir 8 dae in die hoësorgeenheid waar hy met mediese tegnologie gehelp is om te leer asemhaal en behandel is vir alles wat verder nodig was. Daarna is hy ontslaan na die kraamafdeling waar ek weer saam met hom in die hospitaal gebly het vir nog 4 dae. Vanaf dag 2 het hy geelsug opgedoen soos normaal is by babas.
Min het ons geweet dat daar vir ons nog 'n stryd voorlê. Vir die hele duur van sy verblyf in die hospitaal is hy met spesiale ligte behandel vir die geelsug. Daar is later 3 ligte gelyk op hom geplaas, maar hulle kon nie sy telling baie afbring nie. Toe die telling 193 bereik, is ons ontslaan (normaal is onder 80). Die vreugde om ons seuntjie huis toe te neem, was groot en ons het net die Here gedank daarvoor.
Tuis het ons hom onder spesiale ligte laat lê en 'n bietjie sonlig gegee, maar sy telling het weer na 236 opgegaan. Hy behoort baie siek te gewees het met so ‘n hoë telling, maar dit het andersins goed gegaan.
Sy massa het mooi toegeneem. Met sy 6 weke ondersoek was die dokter tevrede, maar sy geelsugtelling is weer gemonitor. Die middag het die dokter geskakel en gesê die telling is 300 en ons sal die probleem moes vind.
Die volgende dag is daar sonars, plate en bloedtoetse gedoen. Hulle kon nie sy galblaas opspoor nadat hulle 3 maal sonars gedoen het nie. Dewald het toe reeds in die 6 weke soveel keer bloed geskenk dat hulle nie meer bloed kon kry in sy armpies nie en moes dit by sy nekkie trek.
Dit was baie traumaties en hy het vreeslik gehuil. Ons is verwys na 'n spesialis in Morningside Kliniek in Johannesburg. Daar is Dewald opgeneem en moes hy weer deur al die sonars, plate en bloedtoetse gaan. Waar hy tot nou nog alles kon hanteer, het hy dié dag histeries gehuil en die hele nag in my arms geslaap. Dit breek jou hart as hy so snik in sy slaap en jy weet wat jou kindjie reeds in 6 weke beleef het.
Die spesialis het besluit om 'n lewer-biopsie in die teater te doen. Die 20 minute wat ons buite die teater moes wag, was vir ons 'n ewigheid en jy is net te dankbaar om weer jou kindjie in jou arms te hou! Na twee dae in die hospitaal kon die spesialis nie die oorsaak kry van die hoë telling nie en was die toetse almal skoon. Hulle het ook sy galblaas opgespoor. Hy is ontslaan en ons is huis toe. Ons het hierna weekliks die telling laat toets en dit het stelselmatig afgeneem. Waar ons 'n "geel" babatjie gehad het, kon ons begin sien hoe sy toestand verbeter en hy ligter word. Op week 10 was sy tellling 136. Ons weet vandag nog nie wat die oorsaak was nie. Dit is nie vir ons as mens altyd aangenaam wat met ons gebeur nie. Maar dit hou ons op ons knieë en nederig voor God.
Vandag is Dewald 3 maande oud en verstaan ons nie hoekom al hierdie dinge gebeur het nie. Maar die wete is in my hart dat die Here ons met 'n rede deur alles geneem het. Ons en ons huwelik is nou emosioneel en geestelik sterker en die Here kan ons ook gebruik om ander mense wat in hierdie situasie kom, te ondersteun.
Al wat ek vir enigeen in 'n krisissituasie wil sê, is: Hou net aan die Here vas en Hy sal jou krag gee en deurdra op daardie pad. Getuig en dank Hom net altyd vir Sy liefde en genade!

Indeks     Index