EK LEEF IN GEBROKENHEID...
  Ek leef in gebrokenheid teenoor Sy volmaaktheid. Ek sien brokkies en stukkies… Asof in doolhowe beweeg ek. Fragmentaries, terwyl Hy die totaliteit in oënskou neem.
In my mensheid worstel ek met fragmente van die werklikheid. Daarom verstaan ek gewoonlik nie presies wat mét my, of róndom my gebeur nie. Die enigste hoop wat ek het tot volkome begrip, is die Gees wat Hy in my gedeponeer het. Maar ook net met mate... Daarom is my waarnemings soos deur 'n spieël in 'n raaisel.
Ek bestaan in 'n stukkende wêreld. Alles om my is stukkend. Hoe kan ek die volheid, en dít wat heel is, begryp? Sal Hy my ophef deur Sy Gees sodat ek net íéts van die groter werklikheid kan verstaan?
Wat doen Hy met my op hierdie vernielde aarde; eens die volmaakte skepping van God? Sal Sy Gees ook op my kom broei, soos Hy gebroei het op die chaos tydens die (her)skepping in die begin? (Gen. 1:1-2)
Toe het daar orde gekom. Daar het lig gekom uit die duisternis. Volmaaktheid het toegetree tot die skepping. Dit was alles goed in Sy oë. Want Sy Gees het die verskil gemaak!
Ja, daar sal ook lig kom in my gees, want God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. Om die fragmente van dít waarmee ek worstel, bymekaar te bring, het ek Sy wysheid nodig, wat Hy gee as ek daarna vra.
Maar wanneer hierdie aardse bestel verby is en ek in Sy verheerliking ingaan, sal ek die volheid begryp, of net 'n groter begrip hê van die volle werklikheid? Want om alles te verstaan soos Hy dit verstaan, beteken sekerlik dat ek aan Hom gelyk moet wees. En hoe kan ek dit wees of word as skepsel van God? Sal ek dan nie ewig “skepsel” van God bly nie? Daarom sal ek in die verheerliking as skepsel net voor my Skepper kan neerval en Hom aanbid… en aanbid… “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Joh. 3:2).
Een ding wat ek ten volle sal besef, die fragment van die werklikheid wat ek volkome sal verstaan, is my kleinheid en geringheid teenoor Sy grootheid en almag.
Dan sal die ewigheid voorlê om méér en méér van GOD te leer ken en sal daar voortgang in my aanbidding wees. Want Hy is regdeur die ewigheid só groot en ek só klein. Hy is volmaak God en moet daarom tot in alle ewigheid deur al Sy heiliges en al Sy engele aanbid word!
My enigste hoop terwyl ek op hierdie aarde, in hierdie gebrokenheid verkeer, is om by Hom te skuil, al verstaan ek nie alles nie. Wanneer Sy Gees op my rus, kom daar beter begrip en insig. In Hom kan ek tot rus kom en in Sy vrede, wat alle verstand te bowe gaan, lewe.
In Sy vrede vind ek vervulling. Want dít is deel van die volmaakte werklikheid wat Hy vir elke mens wil gee in Christus Jesus !

Indeks     Index