IN DIE KAKE VAN DIE DOOD!
 

Op 15 Julie 2003 het ek 'n visie van die Here ontvang om 'n boek te skryf met die titel "Traumatiese ervarings en God se Hand hierin."
Die bevestiging met betrekking tot hierdie boek was in die Julie-uitgawe van "Goeie Nuus." Die artikel "Volmaakte liefde is om te vergewe…" het die deurslag gegee, want my getuienis handel ook oor vergifnis, 'n nuwe lewe vir myself asook vir die rowers!
Dit wat ek net in rolprente gesien het en nooit kon droom dat dit ooit met my sal gebeur nie, het op 6 Nov. 1997 'n werklikheid in my lewe geword!
Ek was werksaam by Vaal Reefs Poskantoor, 'n klein stil plekkie, onbekend en half vergete in die samelewing. Met sluitingstyd, haastig op pad huis toe, en amper in die motor, het drie gewapende mans ons skielik - uit die niet - oorval!
Ek het 'n vuurwapen in my sy gevoel, 'n stem wat sê: "Come on lady, open up!" En 'n onbekende asem het in my nek geblaas…
Uit die hoek van my oog het ek gesien dat Alta ook met 'n vuurwapen aangehou word. Beangs en die ene bewerasie het ek die deur van die poskantoor oopgesluit. Hulle het Alta op die mat voor die toonbank neer-gedruk en my gevra waar die kluis is. Ek het die kluis oop-gesluit en moes op die mat in my kantoor sit.
Die vuurwapen is van my sy weggeneem, 'n skoot het afgegaan en daar was 'n gil van angs! Omdat Alta my nie kon sien nie, het sy gedink ek is raakgeskiet. Skielik het ek in iemand se gesig vasgekyk, die diep snye in sy vel opgemerk en gevoel hoe hy my ringe, hangertjie en armbandjie afhaal. Ek het gegril!
Die ander rower het geen geld gevind nie en my kom haal om die laaitjie oop te sluit. Sweet het van my afgedrup, maar die laaitjie wou nie oop nie! Hy het die sleutel by my gegryp, self probeer, maar niks uitgerig gekry nie.
Met die vuurwapen wat aanhoudend in my nek kap, en wat na 'n ewigheid gevoel het, was die laaitjie oop! Die rower het al die buit in sy rowersak gesit, die deur in my gesig toegestoot, en my alleen gelaat…
Gedagtes dat hulle ons nou gaan skiet, het deur my kop gemaal! Ek het na God geroep (aan Wie ek toe nog nie behoort het nie). Skielik het die deur oopgegaan en Alta is ingestamp. Ons het sleutels in die sleutelgat hoor draai en toe 'n motor wat wegtrek. "Die Here het ons gespaar!" was al waaraan ek kon dink.
Dit was asof ek nie dadelik die skok beleef het nie. Daarom kon ek dit ook nie verwerk nie. Tot eers tien maande later...
'n Onbekende man het voor my kom staan. Ons oë het ontmoet en ek kon die aggressie nie net in sy oë sien nie, maar ook ervaar. Na wat soos 'n ewigheid gevoel het, het hy omgedraai en weggestap.
In my kantoor het ek op my stoel neergeval en hartverskeurend begin huil! Riekie, wat 'n pragtige kind van God is, was daar om my by te staan. By die huis was dinge deurmekaar, my huwelik besig om te verbrokkel, ek sielsongelukkig en op pad na die hel!
Een aand het ek 'n droom gehad: 'n Man het op 'n donkie in 'n smal paadjie gery. Hy het vir my gesê: "Maak reg, die tyd is min!" Met self–moordgedagtes, depressie, en 'n lewe wat geen sin meer gemaak het nie, het ek op moedverloor se vlakte gesit.
Ek kon die aanhoudende geklop aan my hartsdeur nie langer misken nie en op 10 Oktober 1998 het ek daarop gereageer! In Openbaring 3:20 staan geskrywe: "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My."
My hart se deur was nou wawyd oop en Jesus het ingekom! Ek was nou 'n Koningskind! Die seer van die verlede het nie meer saak gemaak nie en die rowers het ek ook vergewe. My man is twee dae later ook gered en ons as gesin het die Here begin dien. Ons huwelik is deur God herstel en ons het die vrede van die Here ervaar!
Die rowers is intussen aangekeer. Die uitkenningsparade het aangebreek. Ek kon daardie twee gesigte goed onthou. Toe ek in Joseph se oë vaskyk, het hy gesê: "Vat maar aan my skouer…" Ek het hom jammer gekry en instinktief geweet dat ons weer sou ontmoet.
Drie maande later is die aangrensende kafee beroof. Die Here het juis daardie betrokke oggend met my oor 'n Gevangenisbediening begin praat. Oor Radiokansel het hulle gesê dat Jesus nie etikette om mense se nekke hang nie. Almal is vir Hom ewe belangrik! Die eerste persoon wat deur Sy kruisdood gered is, was die misdadiger wat langs Hom aan die kruis gesterf het. Hoe kan óns mense veroordeel, terwyl Hy in Sy sterwensoomblikke Sy genade aan so 'n persoon kon bewys?
Die Here het vir ons 'n kragtige deur by die Gevangenis oopgemaak. Met die eerste biduur was Joseph en Sipho ook daar. Ons het mekaar herken, maar woorde was daar nie. Dit was vir my net Goddelik dat uit die 2 000 mense in die Gevangenis hulle 2 van die 14 was wat die biduur kom bywoon het! Ek het geweet dat die Here besig was om Sy plan met my en hulle lewens uit te voer!
Met die tweede biduur was hulle weer daar. Sipho het aan my gevra: "Wat sal iemand doen as hy nou vir hom sou sê dat dit hy was wat twee jaar gelede sy broer geskiet het?"
Ek het besef waarop hy sinspeel en met hulle onder leiding van die Heilige Gees oor vergifnis gepraat. Toe die ander verdaag, het hulle na my toe gekom. Ek het hulle gevra of hulle weet wie ek is. Hulle het op hulle knieë gaan staan en gesê: "Vaal Reefs Poskantoor, vergewe ons asseblief!"
Ons het saam gebid en hulle het hulle harte en lewens aan Jesus gegee! Maar die verhoor het nog voorgelê. Ek moes die waarheid praat, al was dit hoe moeilik. Hierdie twee mense het ek nou liefgehad as broers in die Here. Die hartseer was baie duidelik op hul gesigte te lees toe ek in die getuiebank moes staan.
Ek wou nie die vonnis hoor nie en het dit later in die koerant gelees: "ROWERS TRONK TOE, Klerksdorp. Vyf mans wat verantwoordelik sou wees vir seker die grootste rooftog nog in die stad se geskiedenis moet altesaam 175 jaar tronkstraf uitdien vir sameswering tot die roof en nog nege ander plundertogte. Speurders het Joseph Mokoena, Pieter Stofile, Kingsley Serake, Simon Sabisa en Eric Sipho Thabalala op Oukersdag 1997 in hegtenis geneem vir hul sameswering om die Ontvanger van Inkomste se kantoor in die stad te beroof. 'n Reuse bedrag van R5 miljoen sou in die rooftog gebuit gewees het as dit nie vir die polisie se blitsige optrede was nie. Die vyf mans is vroeër die maand in die Streekhof gevonnis op nege aanklagte van gewapende roof, twee van poging tot moord, een van sameswering tot die pleeg van 'n misdryf en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie."
My hart was baie seer, maar ek het besef dat God 'n baie spesiale plan met hulle lewe in die Gevangenis het. Vandag dien Sipho op die Kerk se Komitee en Joseph word ook kragtig in die Gevangenis gebruik. Hulle is spyt oor dit wat hulle gedoen het, en is besig om daarvoor te betaal.
Ons as slagoffers van traumas moet die Here toelaat om in ons hart te werk om ons aggressors met opregtheid te vergewe. Sonder hierdie vergifnis sal jy nooit vry wees om 'n gelukkige lewe te hê, en die plan en doel wat Hy daarmee gehad het, na te streef nie.
Opregte liefde vergewe altyd! Dink aan die kere wat jy verkeerd gehandel het. Wat sou gebeur as jy nooit vergifnis daarvoor by God en jou naaste kon ontvang nie?
Omdat daar so baie mense is wat een of ander traumatiese ervaring beleef het, en geen lig op hulle pad vorentoe sien nie, wil die Here vir hulle ver–troosting bied. In die boek, "Traumatiese ervarings en God se Hand hierin," wil Hy ook vir mense wys dat daar altyd iets goeds uit elke situasie kan spruit en dat Sy oog altyd op ons gevestig is. Niemand kan ons uit Sy Hand ruk nie! Dus kan ons die Here leer ken as 'n God wat beskerm, wat ons deurdra en wat 'n plan het met elke ervaring waardeur ons gaan!
Mense wat hulle getuienisse aan my wil stuur om in bogenoemde boek gepubliseer te word, kan my kontak by 084 505 5029 of 084 653 0499.
Amelia Erasmus

Indeks     Index