TERUGKEER
  Ons Vader, Almagtige God en Skepper van die Heelal - Ons kom verootmoedig ons vandag voor U in die Naam van Jesus Christus ons Verlosser wat deur sy Bloed vir ons versoening met U bewerk het.
Vader - U het ons U gebaande weë gegee om in te wandel - U voorskrifte... en ons het ons eie pad gevolg.
U het ons vrygemaak om U lief te hê en ons het ons tyd deurgebring met filosofieë en met ‘n begeerte na Harry Potter en heksery.
U het ons beveel om die huwelik te heilig, en ons het vryelik kondome beskikbaar gestel aan kinders wat deur U geskape is.
U het ons beveel om ons naaste lief te hê en ons het selfsugtig geword... sonder vergifnis. Ons het die taal wat U ons gegee het, misbruik in ons “letterkunde” van vandag en in die liedjies wat ons sing en wat ons najaag. U het ons tyd gegee om U te soek en ons hardloop weg van U.
U voorskrifte is gegee om ons te beskerm, en ons het dit gesien as outyds. Wees ons genadig, HERE. Sien ons aan as ons die knie buig voor die Lam van God - Hoor ons as ons die Naam van Jesus bely - die Koning van die konings, die HERE van die here.
Vader, ons wil terugkeer na U met ons hele hart, om U te gehoorsaam omdat ons U liefhet en U Naam eer.
Laat u Banier weer oor hierdie land opgerig word. Laat ons terugkeer na ons eerste Liefde, sodat U nie sal kom en ons kandelaar van sy plek verwyder nie. Wederbaar ons gees om U werklik lief te hê en stort u Heilige Gees oor ons uit sodat ons kragtig kan wees vir u Koninkryk! Sodat ons U kan liefhê met ons hele hart, met ons hele siel en met al ons krag soos U in u eerste vier gebooie van ons vra. Help ons om u karakter uit te leef in die ander ses gebooie teenoor ons naaste.
Bou u Kerk HERE - help ons om te bely dat net in U, HERE Jesus, Seun van God, daar vir ons redding is.
Amen.
Elke “koning” wat ons oor onsself kies sal oor ons heers - “Toe sê die HERE vir Samuel: Luister na die volk in alles wat hulle aan jou sê, want nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie... dat hulle My verlaat het en ander gode gedien het... Luister dan nou na hulle: jy moet hulle net ernstig waarsku en hulle die reg van die koning meedeel wat oor hulle sal regeer... Dit sal die reg wees van die koning wat oor julle sal regeer: Julle seuns sal hy neem... ook julle dogters sal hy neem... en van julle lande en julle wingerde en julle olyfboorde sal hy die beste neem en aan sy dienaars gee. En van julle saailande en julle wingerde sal hy die tiende neem... en julle slawe en julle slavinne en julle beste jongmanne... van julle kleinvee sal hy die tiendes neem, en self sal julle sy slawe wees...” (1 Sam. 8:7-9,11-17).
“Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die HERE na wie julle soek...en Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou, en Ek sal ‘n haastige getuie wees teen die towenaars en teen die egbrekers en teen die meinediges en teen die wat die dagloner in sy loon, die weduwee en die wees verdruk; en teen die wat die vreemdeling wegstoot en My nie vrees nie, sê die HERE van die leërskare. Want Ek, die HERE, het nie verander nie...” (Mal. 3:1,5-6a).
“Kom en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind. Hy sal ons na twee dae lewend maak en op die derde dag ons laat opstaan sodat ons voor sy aangesig kan lewe. En laat ons ken - laat ons dit najaag om die HERE te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei... want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandof–fers” (Hos. 6:1-4, 6).
Help ons Vader, om dit te DOEN in ‘n daaglikse belydenis en terugkeer na U.

Indeks     Index