'N PLOFBARE GEBED!
  "Here," bid die Iranse leraar, "ek kan hierdie ondervraging nie meer verduur nie. Asseblief, verlos my hiervan."
Die leraar was alreeds meer as een keer in die tronk, en nou word hy elke twee weke deur die geheime polisie vir verdere ondervraging ontbied. Die ondervraging is slegs 'n sieldodende herhaling van dieselfde vrae wat die leraar daarvan beskuldig dat hy 'n Westerse spioen is.
Die leraar is veronderstel om die volgende oggend weer na die hoofkwartier van die geheime polisie toe te gaan en hy het sy gemeente gevra om te bid dat God 'n uitweg sou voorsien.
"Ek sien jy is hier," sê die beampte wat hom na die ondervragingskantoor vergesel. Die volgende oomblik, voordat hulle met die ondervraging kan begin, ontplof die bandopnemer op die tafel voor hulle. Die bandmasjien is die ene vlamme en dis duidelik dat dit nooit weer sal werk nie.
"Wat dink jy doen jy?" vra die beampte woedend toe hy die effense glimlag in die leraar se oë sien.
"Ek bid vir jou," antwoord die leraar. "Jy is nie besig om teen my te veg nie, maar teen die Here. Jy sal nooit teen Hom kan wen nie."
"Gaan huis toe!" gil die beampte.
Die leraar het nie op hom laat wag nie en toe hy by die huis aankom, vra hy sy vrou: "Wat het gebeur?"
"Drie ou dames van die kerk het hiernatoe gekom," sê sy. "Ons het almal hande vasgehou en gebid dat God jou van die ondervraging sou beskerm."
Toe hulle die twee insidente verder bepreek, ontdek hulle dat die vroue op die presiese tydstip gebid het waarop die bandopnemer ontplof het.
***

Dit is noodsaaklik dat ons nooit die krag van gebed moet vergeet nie.
[Uit: Fanaties vir Jesus, Vol. 11 - DC Talk, CUM, 2004].

Indeks     Index