DIT HET MET MY GEBEUR!
  My dogter wat in Centurion bly, het gedroom dat ek baie siek is. Ek sê toe vir haar dat ek nie tyd het vir siekte nie. Ek het só gesond gevoel...
Aan die begin van Des. 2003 was ek baie moeg en kon amper nie op my voete staan nie. My man sê toe ek moet dokter toe gaan. Dit het vir my gevoel asof ek besig was om dood te gaan. Dit was egter beslis nie God se plan met my nie.
Die dokter neem toe 'n EKG van die hart en neem waar dat my hart se ritme totaal uit is! Op sy aanbeveling moes ek dadelik by 'n hartspesialis uitkom. Ook hier wys die hartsonar twee duidelike vernouings in die hartaar. Ek en my man sien dit ook met ons eie oë! Die spesialis sê dat ek dadelik by 'n hartspesialis in Pretoria moet uitkom sodat die are "oopgemaak" kan word, aangesien dit lewensgevaarlik kon wees as daar 'n bloedklont vorm.
Ek het met die Here gepraat en al ons vriende gevra om vir my te bid. My man het vir my "Die Bybelroma 2" gekoop vir Kersfees. Ek lees toe daarin dat Jesus almal wat geglo het, gesond gemaak het. Hoekom sou Hy my nie ook genees nie? Ek sê toe vir Hom: "Here Jesus, ek glo dat U my genees."
Almal het gebid. Die Vrydag voor ek na Pretoria toe moes gaan, bid Kwame ook vir my. Die Here toon aan hom dat die bloed deur die are pomp en dat niks verkeerd is nie. Na hierdie gebed het ek baie goed gevoel en geweet dat die Here al die gebede wat vir my opgegaan het, gehoor en geantwoord het.
Die Sondagnag droom ek dat ek Johannes 1 en 2 moet lees. Toe ek by hoofstuk 2:11 kom, weet ek wat die boodskap is! Dit lui: "Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen." Ek het toe reeds geweet dat God 'n wonderwerk gedoen het. Hy het dit net deur die Skrif ook bevestig!
Toe ek in Pretoria kom en 'n EKG geneem word, sê die spesialis dat hierdie EKG beslis anders lyk as die voriges wat in Potchefstroom geneem is. Ons het ook saam met hom daarna gekyk. Daar was so normaal as wat kan kom! Ek het geglimlag. Ek het mos gewéét! Die spesialis sê toe dat hy wil seker maak of daar tog are is wat vernou het. Wou ek hom later kom spreek of nog dieselfde middag? Ek wou dit dadelik die middag agter die rug kry.
Terwyl ek in die teater lê, kom sê hy vir my daar is 'n krisis. 'n Dame het 'n hartaanval gehad en hy moes haar gou eers help. Ek het gesê dat ek sou wag en sommer begin bid dat die Here haar sou spaar vir haar bekommerde gesinslede wat intussen opgedaag het. Toe die spesialis weer by my kom, vra ek of sy "deur" is en hy haar kon help. Hy antwoord toe bevestigend dat sy beter is. Dit was vir my wonderlik dat God my ook hier gebruik het om vir ander mense te bid.
In die teater sê die narkotiseur dat hy gewoonlik vir pasiënte iets gee om hulle te kalmeer, maar dit lyk nie vir hom of ek iets nodig het nie. Ek sê toe dit is nie nodig nie. Ek is heel rustig, want ek het mos geweet ek is nie alleen nie!
Na 'n inspuiting begin die soektog na die vernouings. Ek kon alles op die drie skerms sien. Die spesialis sê toe dat hy géén vernouing sien nie! Hy kyk toe ook binne-in die hart, maar sien geen fout nie. Wonderlik! Ek sê sommer kliphard: "Prys die Here! Daar is vir my gebid!" Ek sê toe vir hom ek weet wat ek op die sonars in Potchefstroom gesien het. Ek het daar in die teater gehuil van dankbaarheid. Die narkotiseur vra toe of hulle my seergemaak het, maar ek sê vir hom dat ek uit dankbaarheid huil! Toe sê hy dat ek dan maar gerus kan huil.
Toe ek weer in die saal kom en my man van die wonderwerk hoor, het hy bevestig dat hy ook die vernouings in Potchefstroom gesien het. Ons het die Here net daar gedank en geloof vir Sy wonderwerk! My man vertel toe ook aan my dat terwyl ek in die teater was, hy met 'n dame wat bloedkanker gehad het, kon praat. Sy het bestraling ontvang en hy kon vir haar vertel dat Jesus nog steeds vandag mense genees. Ek is daardie aand 19:00 ontslaan en is nog steeds gesond. Prys die Here daarvoor!
Baie dankie aan almal wat vir my gebid het. Ons waardeer dit so baie.
Lenie Crous (018) 299 6503/290 5107

Indeks     Index