MY PLEK OM AAN TE BEHOORT
  Baie mense dink vandag dis nie regtig belangrik om as christen aan 'n kerk of gemeente te behoort nie! Daarom leef ons maar sommer op ons eie. As ons lus voel sal ek besluit of ek kerk toe gaan of nie…

Tog leer die Bybel vir elke christen, dat God ons geroep het om aan 'n spesifieke liggaam of gemeenskap van gelowiges te behoort! Kom ons noem dit 'n gemeente (plek). Die Bybel leer nêrens gelowiges om permanent eenkant en afgesonderd te lewe nie. Die Bybel sê ons behoort saam tot een liggaam. Ons mag nie en kan nie alleen effektief vir Christus lewe nie!

Rom.12:5 “net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar.” Om lid te word van 'n lys iewers in die sake wêreld beteken jy kom op die organisasie se adreslys. Jy kry miskien afslagvoordele ens. Om lidmaat van 'n kerk of gemeente te wees beteken baie meer! Paulus sê jy word 'n noodsaaklike lid of orgaan van 'n vaste liggaam (vgl. 1Kor.12:12-27 en Rom.12:4-5) Die Heilige Gees gee jou gawes en rus jou toe vir 'n spesifieke doel. Hy kom plaas jou dan binne 'n liggaam van gelowiges waar jy 'n onmisbare taak het. Jy is 'n orgaan van die liggaam. Bv. Die pinkie, oor, oog, of long van die liggaam. Die liggaam kan nie sonder jou effektief funksioneer nie (vgl. 1Kor.12:12-27). Aan die anderkant kan 'n orgaan van 'n liggaam ook nie op sy eie bestaan nie! Dit sal doodgaan! So kan jy ook nie apart op jou eie bestaan nie. Jy sal geestelik agteruit gaan! Dit is waarom die ongereelde bywoning van jou geestelike familie se byeenkomste (soos eredienste), gewoonlik die eerste teken is van geestelike agteruitgang.

Die Bybel noem die KERK “Christus se bruid” of “liggaam” (vgl. Opb.19:7-8 en 2Kor.11:2) God beveel ons om die kerk (mekaar) net so lief te hê as wat Jesus dit liefgehad het (1Pet.2:17 en 1Joh.13:35) die Bybel gee talle redes waarom ons eerder 'n toegewyde en aktiewe lid van 'n plaaslike gemeenskap (gemeente) behoort te wees. Ek noem slegs enkeles:
1) Meelewing in 'n kerkfamilie getuig dat jy 'n keuse vir Jesus gemaak het. Joh.13:35 “ As julle mekaar liefhet sal almal weet dat julle dissipels van My is”
2) 'n Kerkfamilie red jou van selfgesentreerde isolasie. Binne die gelowige familie leer ons opofferende liefde vir mekaar, verdraagsaamheid en begrip. Ons skep ruimte vir mekaar! (vgl.1Joh.3:16)
3) 'n Kerkfamilie help jou om geestelike spiere te bou. (vgl. Ef.4:16) Dit is maklik om te sê jy glo tewyl jy eenkant is en niemand aan jou karring nie. Maar ware geestelike volwassenheid kan net binne verhoudinge ontwikkel.
4) 'n Kekrfamilie help ons ook om nie afvallig te word nie. God stel sy kerk aan om oor jou lewe te waak (Heb13:17). Dis lekker om te weet daar is mense wat oor my besorg is! Wanneer 'n baba gebore word laat die ouers hom nie op straat nie. Daar is 'n familie wat gewoonlik graag hierdie baba wil versorg en grootmaak. Wanneer jy geestelik gebore word, gee God 'n geestelike familie wat jou kan versorg Hd.2:42,44)

Het jy al ingeskakel by jou geestelike familie (gemeente)? God het ook vir jou 'n plekkie gegee waar jy kan inskakel… waar jy behoort! Daar wil Hy jou graag versorg en gebruik! Gaan meld weer aan by jou gemeente as jy afgedwaal het!

Indeks     Index