Kersfees in Blikkiesvallei
  Kerstyd in Hollisholte, VSA. In 'Blikkiesvallei' was toiingrige, slordige kinders, armgeklede vroue en werklose mans, vervalle huisvrouens en moeders wat van hul pondokke 'n woning wil maak. Moedelose pa's wat uit die stad se vullishope iets vir hul gesinne probeer krap. Groot stede ken dié toneel. Dis geensins seldsaam om, in die meer afgeleë dele van 'n voorspoedige stad, plekke te vind waar vullis aanleiding gee tot siekte, misdaad en patetiese toestande nie!
'Blikkiesvallei' het begin as 'n vullishoop. Kort nadat die stad die vallei begin gebruik het as stortingsterrein, het die armes inbeweeg en uit die vullis rommel uitgewan wat gebruik kon word vir liggaam en skuiling. Pondokke is gemaak van winkelkiste en sinkplate; ou stowe is weer aan die gang gekry vir kookdoeleindes en warmte; stene en klippe wat weggegooi is, het vuurmaakplekke en skoorstene geword; ander artikels wat deur voorspoedige dele van die stad beskou is as nutteloos, is gretig opgeraap deur die bewoners van 'Blikkiesvallei' en saamgeflans met planke, stene, stokke en meubelstukke om geïmproviseerde meubels te word.
Om 'n inwoner van 'Blikkiesvallei' te wees, was nie iets om op trots te wees nie. Tog het hul name in koerante as statistieke verskyn: soveel aansteeklike siektes, soveel kriminele dade, soveel opstootjies. Maar om na hierdie mense uit te reik, hulle met liefde te bejeën as siele wat God graag in Sy Koninkryk wou hê, het byna nooit in Christene se gedagtes opgekom nie.
Kerstyd nader. Die winkels stal hulle pragtige ware uit. Jong kinders se oë rek, ore spits, en jong breintjies gons met 'n lewendige verbeelding. Hulle droom oor Kersoggend met 'n spesiale
  speelding van hul eie, terwyl hulle hul aan die winkelvensters verkyk. Dit is mos 'n vreugdetyd vir almal - vir almal behalwe die mense van 'Blikkiesvallei'. Ogies, ore en gedagtes was vol belangstelling, maar sonder die vreugde van verwagting. Pa's en ma's het reeds kortaf gesê dat geskenke net vir mense is met geld, die mense wat teen die heuwel woon, nooit vir 'Blikkiesvalleiers' nie!
Soms het 'n welmenende Kerkvereniging tog 'n mandjie of twee met kos en weggooispeelgoed gestuur, maar weggooigoed was so algemeen
Seuntjie
  vir die seuns en dogters dat hulle nie meer opgewonde kon raak nie - nie soos wanneer hulle kyk na die helderverligte winkeluitstalvensters in die stad nie!
Jamie het in 'Blikkiesvallei' gewoon. Sy kamer was uit kasplanke gemaak. Een venstertjie het daglig ingelaat. Wanneer Jamie 'n paar koerante kon verkoop of sy ma werk kon kry as opwashelper by 'n nabygeleë restaurant, het ‘n olielamp saans ‘n bietjie lig verskaf, maar daar kon net olie gekoop word nadat in alle ander noodsaaklikhede voorsien is. Soos enige ander agtjarige seun was Jamie vol lewenslus.
Op 'n dag besoek 'n tannie die pondok waar Jamie en sy weduweema woon. Sy glimlag so mooi en praat so vriendelik dat Jamie wonder waar sy vandaan kom. Tog nie uit die stad nie? Sy maats het hom vertel dat daardie mense almal kwaai en gemeen is. Eindelik waag hy die vraag: "Waar kom tannie vandaan?" "Nie ver van hier nie, seunie," antwoord sy. "Ek het gekom om julle mense hier in die vallei te help." Dit was iets nuuts vir Jamie. Net sy ma het hom nog altyd gehelp. "Hoe?" vra hy. "Eers gaan ek vir jou 'n mooi storie vertel," antwoord sy. Jamie is die ene ore. Dit is so vreemd, so onwerklik, so onmoontlik, en tog... Die Baba waarvan sy vertel, is waarskynlik gebore in 'n plek soos ‘Blikkiesvallei’. Daarvan is hy oortuig. Maar hierdie tannie sê ryk mans het mooi geskenke vir Hom gebring omdat Hy 'n Koning was.
Toe die tannie weg is, dink hy na oor alles wat sy gesê het. Daardie nag gaan sit Jamie onder die sterre en tuur op na die hemelruim. Dis bitter koud en hy bewe terwyl hy sy baadjie stywer trek om sy maer liggaampie. Hy hoor nie die sneeu wat meegee onder naderende voetstappe nie, so ernstig kyk hy na bo. "Wat vang jy aan, Jamie?" vra 'n bars stem naby sy oor. "Ek soek die ster," antwoord hy. "Maklik genoeg. Volop sterre daar," sê die man. "Nie die ster wat daar was die nag toe Baba Jesus gebore is nie." "Jy beter ingaan waar dit warmer is." Die buurman tree verder na sy eie pondok, en hy dink, 'n Baba gebore... In 'n krip... Um... Dalk steek daar tog iets in die Kersverhaal. Hy't die storie as kind gehoor, maar die hart van die verhaal vergeet. Pyn trek deur hom met die oopmaak van sy deur. Eens op 'n tyd was hy gelukkig toe hy daardie verhaal geken en geglo het. Dalk kan hy dit weer word...
Dis die dag voor Kersfees. Die tannie kom weer om Jamie en sy ma te besoek. Hierdie keer nooi sy hulle na die sendingstasie. Sy belowe sulke wonderlike dinge - pragtige musiek, die Kersverhaal en geskenke vir elkeen van hulle! Nou is Jamie die ene vreugde van verwagting. Hy klap sy hande uitbundig. "Sal tannie my nie weer van die Baba vertel nie?" pleit hy. Sy vertel weer en voeg by: "Dis oor Hom dat ek nou hier is en dat ons julle vanaand geskenke gaan gee. En Hy het gesê ons moet ook ander gaan vertel."
Eindelik breek die aand aan! Jamie het nog nooit in sy hele lewe so ‘n pragtige gesig gesien nie. Hy en sy ma sit amper heel voor in die saal. Daar was sulke mooi musiek, "Vreugde vir die wêreld," sing die mense. Dan staan 'n man op en vertel hulle met sagte stem die verhaal van Jesus. Dan ook die hartroerende note van "O kleine dorpie Betlehem." Dis mos die dorp waar die Baba gebore is!
Die man gaan voort, maar sluit nie af met die wyse manne nie. Hy vertel hoe die Baba gegroei het tot Seun en Man. Hy het mense gehelp, hulle gesond gemaak en hulle geleer hoe om mooi te lewe. En toe - Jamie se oë skiet vol trane - toe neem wrede mans Hom en maak Hom dood! Die prediker vertel verder dat hierdie Man, wat hy Jesus noem, uit Sy graf opgestaan het en nou in die hemel leef! Hy't eers gesterf, maar nou lewe Hy sodat almal - dit beteken mos vir my ook, dink Jamie - saam met Hom vir ewig kan lewe!
Jamie drink elke woord in. Eindelik is die prediker klaar en ander mans gee geskenkmandjies vol heerlike eetgoed en speelgoed en lekkers vir elke seun en dogter in die vallei. Dit was alles so wonderlik! Tog bly Jamie dink aan die verhaal. Hy gaan voetjie-vir-voetjie tot by die prediker en raak aan sy mou. "Meneer prediker," sê hy. "Het meneer gesê daardie Baba het vir alle mense gesterf?" Die man kyk af met vriendelike oë na die jong seun se gesig. "Ja, my seun." "Dan het Hy vir my ook gesterf?" "Ja, seunie." "En ek moet vir ander vertel wat nie weet nie? Die tannie het gesê dis die rede waarom sy my die verhaal vertel het." Die man knik en streel oor sy kop. Dan roep sy ma en weldra sit Jamie styf teen haar in die sendingbussie wat sy vrag terugneem na die vallei.
'Blikkiesvallei' was daardie Kersaand joliger as gewoonlik, maar Jamie was die gelukkigste kind op aarde! Daar was 'n nuwe vrede en vreugde in sy hart soos net Christus aan 'n mens kan gee. Sy hart het oorgeloop van blydskap! Eindeloos het hy die storie herhaal totdat sy afgesloofde ma ook aangesteek is deur sy vreugde, die Heilandsvreugde...
Op Kersoggend was daar 'n sterk wind wat die ysige sneeu, wat die vorige nag begin val het, rondgeswiep het. Jamie was met dagbreek reeds op. Hy trek sy verslete baadjie aan en sit sy pet op, soen sy ma en hardloop na buite in die sneeu. Naderhand kom hy terug, koud en bewend. Maar hy glimlag breed van genoegdoening.
"My kind, waar was jy?" wil sy ma weet terwyl sy hom na die stofie lei om effens warm te word. "Ek't al die mense in 'Blikkiesvallei' oor Jesus vertel." Die Kersete smaak heerlik vir ma en seun, en daar is nog genoeg van die geskenkkos oor om 'n paar dae te hou. Dan is Jamie stil. Skielik staan hy op, fronsend. "Mammie, weet die mense in die heuwelhuise van Jesus?" "Natuurlik, Jamie." "Maar hoe kan hulle? Hulle het ons nooit vertel nie. Dalk weet hulle nie. Ek gaan hulle vertel."
Voor sy ma hom kon keer, is hy uit in die storm. Hy veg teen die wind en sneeu en gaan na die groot wit huise teen die rykmansheuwel. 'n Dame bekyk nuuskierig die verwaarloosde kind wat haar deurklokkie gelui het. "Tannie," waag hy dit, en hy haal sy pet af, "Weet Tannie wie Jesus is?" Sy is te verbaas om te antwoord, en staar hom aan. "Wat gaan aan, vrou?" 'n Man verskyn agter die vrou. "Het oom ooit gehoor van Jesus?" wil Jamie weet. "Natuurlik, ou seun. Kom liewer in en word warm voor jy verkluim," sê die man en maak die deur wyd oop. Jamie loer in. Daar is 'n gloeiende vuurherd en hy kon hitte voel, maar hy skud sy kop. "Nee, Oom. As Oom weet, moet ek vir ander gaan vertel."
Hy draf van die een huis na die ander, altyd met dieselfde vraag en altyd kom dieselfde antwoord. Dan kom hy by 'n veel groter huis as die ander aan, en baie mooier. 'n Man met 'n kwaai uitdrukking op sy gesig maak oop en Jamie stel sy vraag. "Het oom ooit van Jesus gehoor?" "Ja," kom die antwoord botweg. Die man begin die deur toemaak, maar Jamie leun vorentoe en stel die vraag wat hom bly pla sedert hy op die heuwel beland het. "Hoekom vertel Oom ons dan nie in ‘Blikkiesvallei’ van Jesus nie?" "Wel – er – uh," stamel die man. Hy kyk na die bewende seun en sy gesig raak minder stroef. Hy sit sy arm om Jamie en sê: "Kom binne, seun, ons kan daaroor gesels terwyl jy warm word."
"0 nee, oom! Ek moet ander mense vertel. Jesus het gesê almal wat van Hom weet, moet vir ander ook vertel! Ek moet maak soos Hy sê. Dankie, oom." En hy keer terug na die sneeu. Die man kom na 'n halfminuut tot verhaal en draf die trappe af. Maar die skemerlig en veral die verblindende sneeu maak dat hy die seun nie kan sien nie. Watter koers het die seun ingeslaan? "Hy kan tog nie ver wees nie," mompel hy. "Hy moet al amper doodverkluim wees." Hy trotseer die sneeustorm, soek oral, druk naderhand 'n deurklokkie. "Het 'n seun hier aangekom?" "Omtrent ‘n halfuur gelede," sê die vrou. "Dit pla my, hy kan iets oorkom in hierdie sneeustorm."
Die man sê dankie en ploeg verder deur die sneeu. Eindelik gewaar hy die figuurtjie van 'n kind, inmekaargetrek in die sneeu. Hy snel nader. Dis die sendelinkie.
"Ou seun," sê die man en trek hom orent. "Moenie my vashou nie, Oom." Sy tong stoot en sleep. "Ek moet gaan - verder - ander vertel!" Die man keer dat hy nie val nie. Die koue is te erg vir die onbeskermde liggaampie. Die man dra hom na die naaste huis, bel 'n dokter terwyl ander eerstehulp toepas. Maar dit kom te laat. Jamie se werk was klaar gedoen...
Die gevolge van Jamie se opofferende liefdesdade? Die rykmansbuurt is wakkergeskud! Koue harte het sag geword. Almal het geweet van Jamie wat sy lewe wou gee sodat hulle kon hoor van Jesus en Hom leer liefkry en deur Hom ook ander kon liefhê! Aan die bewoners van ‘Blikkiesvallei’ is beter huise verskaf, werk is vir die mans gevind, almal kon beter lewe. Die vallei se omgewing is mooi en netjies gemaak en bo teen die heuwel is daar 'n kerk gebou met 'n toring wat hemelwaarts reik. By die preekstoel is die volgende woorde aangebring: "As jy Jesus ken, hoekom nie ander van Hom vertel nie?"
Die man wat die kerk gebou en die woorde aangebring het, was die man wat Jamie in die sneeu gevind het. Of moet ek sê, die man wat deur Jamie gevind is.
AS JY JESUS KEN, HOEKOM NIE
VIR ANDER VAN HOM VERTEL NIE?

Uit: Christmas in my heart - Review and Herald Publishing Association.

Indeks     Index