DIE BESKERMING VAN DIE ALLERHOOGSTE
  Valerie Rich, Potchefstroom

My dogter, Dawn Rich, en haar vriend, Bennie Bierman, het op 6 Okt. 2003 om 19:00 voor my huis gesit en gesels in Bennie se Isuzu dubbelkajuitbakkie. Skielik is ‘n skoot afgevuur en ek het gehoor dat Dawn vreeslik gil. Ek het hek toe gehardloop en een van die kapers het Bennie voor uit die bakkie geruk en ‘n pistool teen sy kop gehou! Die ander kaper het voor in die bakkie gespring, Dawn aan die keel gegryp en haar begin wurg. Hy het op haar gevloek en gesê sy moet stilbly of hy skiet haar vrek.
Ek het dadelik na die huis gehardloop en al waaraan ek kon dink, is dat gebed die enigste antwoord is. Ek het dadelik my dogter, Erika, in Dundee geskakel en sy het belowe om ook dadelik in gebed in te tree. Ek het ernstig tot die Here geroep en daarna die polisie gaan bel.
Erika het later teruggeskakel en gesê dat sy en haar vriendinne, Annemarie en Clara, wat gereeld saambid, ingetree het vir Dawn en Bennie en dat ek rustig moet wees. Jesus het aan haar ‘n “lig” getoon wat uitkoms beteken. Sy het ook gemeld dat hulle Psalm 91 oor die twee jong-mense uitgeroep het. Dit was vir my ‘n wonderlike bevestiging, want ek het ‘n paar maande vantevore my kinders se name langs Psalm 91 neergeskryf! Ons het ook vir die polisie, sowel as die kapers gebid. Dawn en Bennie is naby Fochville in die bosse afgelaai en het in die donker oor dorings en glasstukke gestruikel totdat hulle ‘n lig in die verte gesien het. Hulle het daarheen gestrompel en die boer het sy buurman gebel en so het die twee vir Bennie en Dawn gehelp. Is God nie wonderbaar en groot nie? Hy is getrou en beskerm ons as ons tot Hom roep. Ons loof sy heilige Naam!

Indeks     Index