OM DIE ONSIENLIKE TE SIEN
  ‘n Tyd gelede is ek en ‘n paar vriende met ‘n rubberbootjie by Kleinmond se hawe uit om te gaan kreef trek.
Dit het na ‘n pragtige oggend gelyk, maar baie skielik het die mis opgekom. Binne ‘n kwessie van ‘n paar minute kon jy letterlik niks sien nie. Die ergste is dat ‘n mens in so ‘n situasie jou rigting totaal verloor. Jy weet later nie meer waar die hawe, die oop see of die rotse lê nie.
Gelukkig het ons ‘n kompas op die boot gehad wat ons uit die gevaar kon hou totdat die mis in so ‘n mate gelig het dat ons die hawe kon bereik. Net die volgende week het ‘n bootjie in soortgelyke omstandighede op die rotse beland ...
Hierdie toneel speel daagliks in die lewe van talle mense af. Die een oomblik skyn die son nog helder en dan sak die lewe met al sy kompleksiteite skielik soos ‘n digte mis op jou toe. In so ‘n situasie kan jy sig, rigting en hoop verloor.
Gelukkig het ook ons ‘n kompas wat ons verder kan laat “sien” in die digte mis. Die Woord, die geloofs-gemeenskap waarvan ons deel is, en ons geloof, help ons om te onthou waar die hawe is en om die hawehoof te sien, al is die lewensmis soms baie dig.
Teks vir die dag: Romeine 8:25: “Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding”.
Gedagte vir die dag: Om te kan hoop beteken dat jy ‘n bril dra wat jou in staat stel om verder as jou onmiddellike situasie te sien.
Uit: Man met balans - Braam Hanekom

Indeks     Index