SOMER-KERSDAG
 
Vir my is ’n somer-kersdag
’n son-dag vol weemoed-genot
’n warm hoop-wens wat wag
op die wonder en glorie van God.

’n Jong dag, gebore skoon, blink en blou
met vreugde van saamwees deur liefde omvou,
waarop skepping en skepsel hul hulde wil bring
deur tot die Skepper ’n loflied te sing.

en later ’n Hoëveld stapelwolk-storm
wat donder en blits en waarsku-vermaan
teen sondeval-nood, teen die oordeel en dood
van siele wat magteloos spartel-vergaan….

Maar eensklaps bring Hy weer die stilte, die rus
die vrede, die redding, die reënboog vol hoop,
en skepping én skepsel word dankbaar bewus
van verlossing en lewe deur Liefde gekoop.

- Estie Nel ©

Indeks     Index