VAN PLOFSTOF TOT VREDE
  Aan die begin van die 20ste eeu het 'n man een oggend die koerant oopgevou en tot sy verskrikking sy eie doodsberig daarin gelees. Dit was klaarblyklik 'n vergissing met name, want hier was die “dooie man” dan nou besig om ‘n nadoodse huldeblyk oor homself te lees.
Nietemin het hy met groot nuuskierigheid voortgelees om te sien wat mense na sy dood oor hom sou sê... Die opskrif het gelui: “Plofstofkoning sterf”. Dit was al erg genoeg, maar verder in die berig moes hy telkens tot sy ontsteltenis lees dat hulle van hom praat as “die handelaar van die dood”.
Maar was hulle verkeerd? moes hy hom afvra. Hy het immers dinamiet uitgevind en baie, baie ryk geword uit die vervaardiging van plofstof en die verkope van allerlei vernietigende wapens.
Die beskrywing in die koerant het hom diep geraak. Wou hy vir ewig onthou word as “die handelaar van die dood”? Eensklaps het hy besef dat hy ‘n unieke tweede kans gekry het... Hy kon nog sy toekomstige grafskrif verander. Na nederige gebed het hy bewus geword van die helende krag van Christus se liefde in sy lewe - 'n krag veel sterker as die vernietigende effek van dinamiet. Dit was 'n lewens-veranderende oomblik. Na daardie dag het die dinamietmagnaat sy energie en geld bestee aan opheffingswerk en die bevor-dering van vrede tussen strydende groepe.
Vandag word Alfred Nobel nie meer onthou as “die plofstofkoning” of “die handelaar van die dood” nie. Ons ken hom as die stigter van die Nobelprys vir Vrede. Sy grafskrif praat van vrede in plaas van plofstof...
Jesus, die verrese Heiland, het ons Vredevors geword! Sy leë graf getuig van die kragtige Hand van die God van vrede wat die moontlikheid tot versoening tussen Homself en hierdie vredelose wêreld bewerkstellig het. Hy is bereid om elkeen wat na Hom toe kom, vrede te gee wat alle verstand te bowe gaan. Laat ons dan Sy Naam op ons lippe neem en ons sukkelbestaan by Sy voete neerlê. Laat Hy jou Vredevors word!

Indeks     Index