DIE UITGESTREKTE HAND
  Na die dood van Salomo het daar skeuring in die Ryk van Israel gekom. Sy seun Rehábeam het koningskap behou oor twee stamme, nl. Juda en Benjamin, terwyl Jeróbeam koning geword het van die ander tien stamme. Jeróbeam het afgode ingevoer, tempels en altare gebou vir die afgode en sy eie priesters aangestel. So het die volk dan afvallig geraak van die HERE, die God van Israel.
God het toe ‘n profeet gestuur om teen die altare en afgode te gaan profeteer. “En net toe die koning die woord van die man van God hoor wat hy teen die altaar in Bet-el uitgeroep het, steek Jeróbeam sy hand uit bo van die altaar af en sê: Gryp hom! Maar sy hand wat hy teen hom uitgesteek het, het styf geword, sodat hy dit nie weer kon terugtrek nie” (1 Kon. 13:4).
Die Nuwe Vertaling lees: “het styf geword”; die King James: “withered”, en die New King James: “dried up.”
Die Hebreeuse woord yabesh hou die betekenis in van “opgedroog” of “verdor”. Dit wil dus voorkom asof die koning se hand wat hy uitgestrek het na die profeet om sê dat hulle hom moet gryp en heel waarskynlik moet doodmaak, heeltemal opgedroog het sodat sy arm styf geword het en hy met uitgestrekte hand gestaan het. ‘n Uitgestrekte hand, amper soos ‘n monument, maar nie ‘n mooi monument nie, wat daarvan getuig dat hy God se man leed wou aandoen en die onskuldige skuldig verklaar.
Toe die koning sy dilemma besef, het hy die profeet gesmeek om vir hom te bid. Hy sou hom egter nie hierna bekeer nie, maar wou net sy genesing ontvang en die funksie van sy hand en arm terughê. Nou was dit die profeet se beurt om die man wat hom wou doodmaak, te vergewe, want daarsonder sou daar geen herstel wees nie. Hy kon omgedraai en weggegaan het, maar wat sou dan van die koning met die uitgestrekte hand geword het? Hoe sou hy vir die res van sy lewe daarmee kon saamleef? Hoe sou hy dit kon hanteer as al die mense hom gedurig so moes sien, met die wete dat hy die man van God skade wou berokken? Die uitgestrekte hand sou nie slegs ‘n “monument” of teken van die koning se hardvogtigheid gewees het nie, maar ook van die profeet se onvergewensgesindheid. Sou dit nie tot skande van albei gewees het nie? Sou albei nie daarna met letsels deur die lewe gegaan het nie?
Die uitgestrekte hand... Indien dit in elkeen van ons se lewe so ‘n opsigtelike werklikheid moes wees elke keer wanneer ons hardvogtig of wraaksugtig of onvergewensgesind sou optree, sou ons ‘n lewende advertensie word van hoe dit binne-in ons harte lyk! Laat ons die Here smeek om ons van ons eie “uitgestrekte hand” te verlos, maar ook om die persoon te vergewe en vry te spreek wat met “uitgestrekte hand” na ons toe staan om ons leed aan te doen!

Indeks     Index