ONS STEL BEKEND...
Die Gereformeerde Kerk Potchefstroom-Oos
  Die Geref. Kerk Potch-Oos het in 1970 van die Potch-gemeente afgestig om lidmate in die destyds nuwe dorpsgebiede Baillie Park en Grimbeekpark, asook lidmate in die Vyfhoek- omgewing en aangrensende plaasgebiede te bedien. Die gemeente is deur die jare met groot seën bedien deur ds. De Wet en Christina Kruger (1970-83), prof. Faan en Linda Denkema (1981-87) en ds. Herman en Susan Grobler (1984-99). Sedert 1999 is dr. Wim en Hettie Vergeer die predikantspaar. Deur die genade van God kon die gemeente in die 32 jaar van sy bestaan aangroei tot ongeveer 650 lidmate.
Die roeping van ons gemeente is om die Blye Boodskap van versoening met God te leef en te preek. Hierdie versoening is die vrug van Jesus Christus se offer aan die kruis waar Hy Satan oorwin en die sondeskuld betaal het wat skeiding tussen God en mens bring. Deur geloof kan mense Jesus se verdienste hulle eie maak en vry van die Bose in 'n herstelde verhouding met God leef. Ons bely daarom Jesus Christus as ons enigste Verlosser en Saligmaker en dien Hom as lewende Here van ons lewe en Hoof van ons gemeente. Vir hierdie diens rus die Heilige Gees ons toe met Sy gawes. Ons geloof en dienswerk fundeer op die Bybel as Woord van God soos bely in die Geref. belydenisskrifte.
Die hoogtepunt van ons gemeentelewe is wanneer ons God in die Sondag-eredienste ontmoet. Ons prys en aanbid Hom as enigste Bron van Lewe en luister dankbaar na sy Woord, en bid ook vir die nood van gemeentelede en die wêreld.
Benewens die eredienste en katkisasie word gemeentelede ook individueel en in klein-groepe bedien. Die ongeveer 200 besoekpunte is in 35 wyke ingedeel. Daar is ook 15 ander belange- en Bybelstudie-groepe waar onderlinge versorging en bediening plaasvind. Opleidings- en toerustingsgeleenthede word op 'n gereelde basis aangebied.
Hierdie gemeente is bekend vir sy hartlikheid en warmte en hou jaarliks ‘n verkoping, 1 of 2 kampe, asook kwartaallikse byeenkomste. Ons is eensgesind en werk met blydskap en vrede in God se Koninkryk saam.
Vir persone wat beproef word of met probleme worstel, is daar ‘n uitgebreide netwerk van versorging in die gemeente beskikbaar. ‘n Spesiale ondersteuningspan vergader weekliks.
Ons gemeente se versorging en eredienste staan oop vir enigeen wat ons hulp nodig het of wat graag saam met ons wil aanbid en dien. Die Diakonie is betrokke by hulpverlening aan gestremdes, werkloses, kinderhuise en ouetehuise. Vroulike lidmate is betrokke in verskeie diensgroepe en lewer ‘n onmisbare en unieke bydrae binne en buite ons gemeente. Sendingwerk deur die gemeente het uitgeloop op weeklikse bediening by vyf punte in en om Potchefstroom. Hierdie werk was so geseënd dat ons gemeente in 2000 in kombinasie met ander gemeentes ‘n eie predikant, ds. Rantoa Letsosa, kon beroep. Sy bediening het ondertussen so uitgebrei dat byna 700 lidmate en talle meelopers tans deur hom versorg word. Teologiese studente word ook in hierdie dienswerk betrek en daar word oorweging geskenk aan die beroeping van ‘n tweede voltydse predikant.
‘n Vroue-bediening, gemik op die toerusting van huishulpe, word ook reeds die afgelope 30 jaar op Woensdag-middae in ons gemeente aangebied. Elke Sondag vind bediening ook by die Vyfhoek Gevangenis plaas.
God voorsien ryklik vir die uitgawes van ons gemeente deur die getroue dankoffers van lidmate.
Ons gemeentedienswerk word in afhanklikheid van God verrig. Die gemeente bly deel van God se strydende Kerk op aarde en daarom ondersoek ons steeds biddend geleenthede vir die uitbreiding en verbetering van ons dienswerk. Terselfdertyd is selfondersoek, verootmoediging, Bybelstudie en daaglikse bekering deel van ons Gereformeerde lewenstyl. Daar word met lankmoedigheid, maar ook met beslistheid, gewerk aan probleme soos onbetrokkenheid, swak deelname aan eredienste en sedeloosheid. Ons gee ook soveel vir mekaar om dat ons bereid is om mekaar aan te spreek en te vermaan.
Uiteindelik bly ons ‘n gemeente van Christus wat in die wêreld, maar nie van die wêreld is nie. Ons deel graag saam met alle mense die vreugde en genade van die aanbidding en diens van God en sien saam met alle Christene uit na die volmaaktheid wat aanbreek as ons Here op die wolke terugkom.

Indeks     Index