BLOEDGETUIES VIR CHRISTUS
  (UIT: 'N VROU EN HAAR GOD
deur I L DE VILLIERS)

Dit is veelseggend dat die Griekse woord vir "getuies", martures, presies dieselfde is as dié waarvan ons woord "martelare" afgelei is. Wanneer Jesus aan sy dissipels sê dat hulle sy "getuies" sal wees, gebruik Hy die woord martures, martelare. Sy volgelinge sou voor die wêreld getuig van alles wat hulle gesien en gehoor het, alles wat God aan hulle geopenbaar het, die groot dade van God.
Maar die wêreld, veral die destydse wêreld van die Romeinse Imperium, sou nie hiervan hou nie. Keisers sou, soos Herodes, deur die
bloedgetuie
  boodskap van 'n nuwe, ewige koninkryk bedreig voel. Die gepeupel, heimlik beïndruk deur die voorbeeld van die Christene, sou minderwaardig voel, maar tog nie bereid wees om by hulle geledere aan te sluit nie. Toe, soos ook nou, sou die geledere van Jesus nie op kwantiteit kon staatmaak nie, maar wel op die kwaliteit van 'n ware wedergebore hart. En die Christene se boodskap van vrede was, in die geledere van die Romeinse legioene wat met die swaard 'n wêreld onderwerp het, soos 'n wanklank. Snags moes hulle in die geheim bymekaarkom om tussen die grafte te aanbid, omdat volgens Romeinse wet, niemand in 'n begraafplaas in hegtenis geneem kon word nie. Hulle is vir alles geblameer: as daar droogte was, of hael, of as die Po-rivier sy walle oorstroom en landerye verspoel het. Hulle moes in die arena veg en vir die vermaak van die skare deur die leeus opgevreet word. Sommige van hulle se moed het hulle begewe en hulle het hul geloof verloën. Maar die meeste het die dood verkies, eerder as om die Naam van die Here oneer aan te doen. Hulle bloed het die saad van die Kerk geword. Hulle getuienis het die Christendom laat uitbot en groei tot aan die uiterste eindes van die aarde.
Onder hierdie bloedgetuies vir Christus was daar menige edel vrou, iemand soos Perpetua. Rondom die jaar 200 het die verskriklike vervolging van die Christene na Noord-Afrika versprei. Perpetua, 'n jong Christenvrou met 'n baba, is ook gearresteer. Haar vader het ook gehoor dat sy in die tronk is en het haar gesmeek om tog maar haar geloof prys te gee, ter wille van hom, ter wille van haar kind, ter wille van haar eie lewe...
Sy het geweier en haar kind is van haar weggeneem. Tydens haar verhoor het sy almal, aanklaers sowel as regters, beïndruk met haar innerlike geestelike krag, haar kalmte en standvastigheid. Haar vader het weer gepleit, en sy is gewys op die pyn en verskriklike dood wat op haar wag, maar sy het dit met die gelatenheid aanvaar wat net aan 'n vrou eie is: "Ek het geen keuse nie," was haar antwoord aan die regters, “dis òf die dood met Christus, òf die lewe met ‘n leuen."
Toe sy na die tronk weggelei is, het haar kind in haar vader se arms onbedaarlik begin huil. ‘n Oomblik het sy bedroef omgekyk. Toe het sy haar hoof hoog gehou en onder geleide die ander veroordeeldes na die selle onder die arena gevolg, onwrikbaar op die pad wat sy gekies het.
Op die dag van die Romeinse sirkus is Perpetua en ‘n aantal Christenvroue nakend in die arena gegooi. ‘n Wilde bul het haar eers gruwelik rondgestamp voordat ‘n soldaat haar met sy swaard onthoof het. Sy het letterlik selfs nie eens haar kind bo haar Here liefgehad nie!
Nog ‘n merkwaardige verhaal is dié van Denisa, ‘n jong vrou wat in die jaar 249 teenwoordig was toe ‘n jong Christenman voor die regters geswig het en sy Christenskap afgesweer het. Dit was vir Denisa te veel. “O, ongelukkige mens," het sy hardop in die hof uitgeroep, “waarom gee jy toe vir ‘n oomblik se vrede, teen die prys van ‘n miserabele ewigheid?"
Optimus, die regter, het haar gehoor. “Bring daardie vrou hier!" het hy die geregsdienaars beveel. Hulle het haar gegryp en geboei. “Is jy ‘n Christen?" het die regter gevra. “Ja," het haar antwoord helder en duidelik gekom. “Ek is. En wat julle ook al aan my doen, dit sal my nooit van hierdie belydenis laat afwyk nie!" Sy is tot gedwonge prostitusie veroordeel, maar niemand het dit gewaag om haar só te misbruik nie. “Daar skyn ‘n lig om haar..." het die soldate bevrees uitgeroep. Die regter het besluit om korte mette met haar te maak en haar laat onthoof. Sy het die beuel om sy naam gevra en terwyl sy op die swaard gewag het, het sy ook vir hom by die naam gebid.
Aangrypend is die lydensverhaal van 'n jong egpaar, Timotheüs, ‘n diaken, en sy vrou, Maura, Christene uit Mauritanië. Timotheüs is in die jaar 302 gevange geneem toe hy van ‘n diens in die berge teruggekom het. Hy was in besit van handgeskrewe Bybelboeke - verdoemende getuienis teen hom! Met warm ysters het soldate hom gepynig om die name van ander Christene ook bekend te maak. “Jou boeke sal jou niks help nie," het hulle gesê en sy oë uitgesteek. Toe Maura dit sien, het sy by hom gepleit om maar liewer te doen wat hulle vra. Maar toe sy weer na hom kyk, haar man met sy blinde oë en gebreekte liggaam, het sy uitgeroep: “Ek is ook een! Ek is ook 'n Christen! Ek staan by my man en my God!" Dit het haar lot beseël. Sy is eers op die pynbank uitgerek en daarna, 'n paar tree van haar man af, gekruisig.
'n Insident uit die Spaanse burgeroorlog bly een van die aangrypendste verhale van 'n vrou se opoffering. 'n Jongman en 'n meisie, verliefdes, het een Sondagoggend uit 'n witgekalkte kerkie naby Valencia gekom. Buitekant het 'n afdeling kommunistiese soldate gesit, verveeld en lus vir 'n bietjie makabere pret. Hulle het hul gewere op die jong paartjie gerig: "Vloek Christus!" het hulle beveel, "of sterf!" Die jongman het gedoen wat hulle gevra het en was later 'n korporaal in die kommunistiese leër. Die jongmeisie het geweier en haar bloed het die mure van die kerkie rooi geverf.
Miskien word die onwrikbare geloof van vrouemartelare, die beste uitgedruk in die woorde van Julitta van Kappadosië, wat vroeg in die derde eeu verbrand is: "Nie my besittings nie," het hierdie welgestelde vrou gesê, "of my voorkeure of afkeure of gemaksug sal my dwing om téén Christus te kies nie. Ek sal alles vir Hom opoffer, ook my lewe as dit moet. Niks is tog van groter waarde as getrouheid aan God, die God wat ewig is nie!"

Indeks     Index