DIE GEBREEKTE KLIPTAFELS
  (Psalm 27:1-3 Life Application Bible)
Pinkster Protestante Kerk
Potchefstroom-Suid

"En Moses het omgedraai en van die berg afgeklim, met die twee tafels van die Getuienis in sy hand... En die tafels was die werk van God. Die skrif was ook die skrif van God... En toe hy naby die laer kom... het die toorn van Moses ontvlam, en hy het die tafels uit sy hande gegooi en hulle onder aan die berg verbrysel."(Ex. 32:15, 16 en 19).
Moses ontvang die twee kliptafels uit die hand van God. Die tafels was die werk van God en ook die skrif op die tafels. Die waarde onberekenbaar! Wat sou enige instansie of museum nie bereid wees om vandag daarvoor te betaal nie!
Veertig dae en nagte was Moses in God se heerlike teenwoordigheid. Skatte soos dié ontvang mens net wanneer jy alleen met God verkeer.
Maar, terwyl Moses in God se heerlike teenwoordigheid was, was die volk besig om ‘n afgodskalf te maak! Met sy terugkeer, met die kosbare kliptafels in sy hand, hoor Moses die geluid van beurtsange. Soos hy nader kom, sien hy die volk besig om te koordans en lofuitinge te bring aan ‘n afgodskalf!
Op daardie oomblik gebeur daar iets met Moses. Hy begin sy oë en ore van God wegdraai. Wat hoor hy? Hy hoor ‘n volk, wat God moes dien, besig om te juig rondom ‘n afgodskalf! Hy sien Aäron, wat saam met hom die volk moes lei, besig om afgodery te pleeg! Die oomblik was vir hom net te veel. Sy hele wese raak vertroebel en HY NEEM DAARDIE HANDEWERK VAN GOD, EN VERBRYSEL DIT ONDER AAN DIE BERG!
Hoeveel keer herhaal hierdie geskiedenis hom nie in die lewe van menige gelowige nie. Nie net gewone gemeentelede nie, maar selfs in die lewe van gesalfde Godsmanne en vroue. Toe hulle met God besig was op die berg, toe hulle sy heerlikheid soos in ‘n wolk ingegaan het, het hulle met Hom gepraat en Hy met hulle. Hulle hele wese was op Hom gerig. Maar ‘n tyd het gekom dat hulle begin afsak het na die "laagte". Dit was tóé dat hulle hulle ore begin uitleen het, hulle oë weggedraai het van God, dat hulle begin kyk het na wat ander doen. Toegelaat het dat hulle wese vertroebel raak. Dit was toe dat hulle daardie handewerk van God, kosbare gawes en talente wat aan hulle toevertrou is, geneem het en dit stukkend gegooi het!
Hoeveel van God se kliptafels, sy handewerk, kosbare gawes eens aan sy uitverkorenes toevertrou, lê vandag in stukke langs die berghange? Dit wat die Here met sy eie hande gemaak en gevorm het, lê sommer so weggegooi - stukkend gebreek en agtergelaat!
"Moses, hoekom gooi jy My handewerk stukkend? Wat het Ek aan jou gedoen? Watter reg, Moses, het jy gehad om my handewerk stukkend te gooi? Weet jy dan nie, Moses, dat dít wat Ek aan jou toevertrou het, heilig was nie? So kosbaar en so duur voor betaal. Betaal met die lewe en bloed van My Seun!"
Hoe hartseer en skaam moes Moses nie toe gevoel het nie! Skaam voor die God wat so laag kan neerbuig. Ja, selfs tot die mens wat sy handewerk stukkend gegooi het! "Ek gaan weer my kosbare boodskap aan jou toevertrou Moses, maar hierdie keer kos dit ‘n bietjie meer van jou kant af. Jy gaan nou self die kliptafels kap en na My bring. Maar Ek sál dit wéér beskrywe en wéér aan jou gee!" Dít is die God wat ons dien! So groot is sy wonderbare liefde en genade!
Hy buig vandag na u en nooi u om weer op die berg te klim na Hom toe. In sy teenwoordigheid en heerlikheid in!
Toe Moses vir die tweede maal uit God se teenwoordigheid kom na veertig dae en veertig nagte, het sy gesig so geblink van die heerlikheid van God dat Hy homself moes versluier. Watter heerlikheid wag daar nie op elkeen wat bereid is om weer God se heerlikheid en teenwoordigheid op te soek nie! Want is sy genadegawes en roeping dan nie onberoulik nie? (Romeine 11:29). Die toekomstige heerlikheid kan selfs groter wees as die vroeëre, as ons maar net weer opklim na Hom en in sy heerlikheid kom. (Haggai 2:9).

Indeks     Index