3 Februarie 2002 - BY DIE KOSYN VERBY!
BY DIE KOSYN VERBY!
  Ek het eenmaal by 'n gimnasium aangedoen en met die eienaar gesels. Hy praat toe oor die verskillende oefenapparate en sê: "Die moeilikste apparaat in die gimnasium is die kosyn." Fronsend het ek hom aangekyk, want alhoewel ek nie 'n gereelde besoeker by die gimnasium was nie, het ek nog nooit van so 'n apparaat gehoor nie! Waarop hy bevestig het dat hy eintlik na die kosyn van die deur verwys het. Dít is die moeilikste apparaat, want voordat iemand homself so ver kan kry om 'n goeie oefenprogram te volg, moet hy éérs by die kosyn verbykom. En iemand wat sukkel om homself te motiveer sou dalk probleme gehad het met dié apparaat!
Dit het my laat wonder: Wat is die moeilikste taak wat ons vir die Here kan verrig? Ons kan 'n dosyn of meer dinge opnoem, maar moontlik is die moeilikste werk dít wat ons in die binnekamer behoort te doen. En voorwaar, daar is ook 'n kosyn waar ons eers moet verbykom! Die Here roep elkeen van sy kinders na die binnekamer toe. "Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir 'n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan" (Jes. 26:20).
In moeilike omstandighede moet ons onthou dat God dit vir ons sê, sodat Hy ons deur ons krisis kan help. En tog moet dit 'n spontane handeling wees van ons kant af, sodat dit nie vir Hom nodig sal wees om ons eers in krisisse te laat beland sodat ons Hom sal soek nie. Ons hoef nie te wag vir die dag van "grimmigheid" (Jes. 26:20) of "die dag van benoudheid" (Ps. 50:15) voordat ons na die binnekamer sal vlug nie. Soek Hom in die gunstige tye ook!
Alhoewel Hy in die tyd van benoudheid gereed is om ons hulpgeroep te hoor, wil Hy ook graag ons stemme hoor in die "goeie tye".
Daarom sê Jesus ook: "Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde" (Matt.6:6). Ook 'n roepstem na die binnekamer toe. Net 'n roepstem tot gebed, aanbidding en intersessie vir ander, nie slegs 'n toevlug in tye van benoudheid nie. In ons binnekamer vind daar dus baie harde werk plaas wanneer ons vir ander intree. Op ons knieë doen ons die moeilikste "werk" vir God, maar tog ook die geseëndste! Want dáár sien die regverdige Vader presies wat ons vir Hom doen, en Hy vergeld ons in die openbaar! Almal sal wonder hoekom jou lewe so geseënd is totdat hulle ontdek dat daar loon is vir die een wat bereid is om hierdie harde werk te doen. Hoekom is dit so hard? Die grootste rede is sekerlik omdat ons 'n vyand het wat alles in sy vermoë sal doen om die kinders van die Here van die binnekamer af weg te hou. Want die grootste oorloë word ook dáár geveg én oorwin!
Laat ons ons opnuut toewy om die harde, maar geseëndste werk in die binnekamer te doen, want onthou, die Here wag daar vir jou!

Indeks     Index