WONDERWERKE
VIND STEEDS PLAAS!

 
Marina Badenhorst, Flamwood, Klerksdorp. (018) 468 2657

Graag getuig ek van ons wonderlike, almagtige Hemelse Vader. Vroegoggend, 19 September 2001, het ek skielik 'n verskriklike vreemde pyn in my nek gekry. By Quick Care het my huisdokter dadelik 'n skandering ("scan") gedoen. Daar was massiewe bloeding op die brein; 'n aneurisme het begin bloei! Dadelik is 'n helikopter ontbied om my na 'n Privaathospitaal in Krugersdorp te neem. Toe die helikopter nie opdaag nie, is ek per ambulans vervoer. Gedurende die nag het ek in 'n diep koma verval, die bloeding het baie vererger en 'n operasie feitlik onmoontlik gemaak. Die neuroloog verduidelik aan my man, Jan, dat hy 'n baie gewigtige besluit moes neem. Indien daar nie dadelik 'n operasie plaasvind nie, sou ek sterf! Medies gesproke was die kanse dat die operasie suksesvol sou wees, ook eintlik nul. Indien Jan wel toestemming vir 'n operasie sou gee en ek herstel, sou daar definitief 'n gebrek of gestremdheid wees.
Jan besef dat my lewe nie in mensehande is nie, maar in God s'n. Hy bid en vra dat God se wil sal geskied. Hy kry ongelooflike berusting en versoek die dokter om voort te gaan met die operasie en te doen wat menslik moontlik is. Die operasie duur 8 ure en die aneurisme word suksesvol geklamp. Die gestolde bloeding kan egter nie verwyder word nie, omdat die breinweefsel beskadig kon word. Die bloedvate en liggaam moet self die oortollige bloeding oplos en verwyder. Volgens die geneesheer is die feit dat ek die operasie oorleef het, onverklaarbaar! Vir die volgende vier weke word ek in die intensiewe eenheid versorg, gekoppel aan monitor- en nege toedieningsapparate, asook 'n longmasjien en breindrukmonitor.
Danksy 'n wonderwerk van God, duisende gebede wat oor die wêreld opgegaan het en my man se sterk geloof, is ek 'n maand later in die Riverfield Lodge Rehabilitasiesentrum in Krugersdorp opgeneem. Ek was nie ontsteld omdat my hare afgeskeer was en ek nie kon loop nie. Ek het 'n wonderlike kalmte en vrede ondervind en ek glo dit was almal se gebede wat my deurgedra het.
Hier moes ek vir 'n verdere 4 weke met behulp van terapie en sielkundige behandeling opnuut leer om te leef. Ek het ook weer leer loop en het tot so 'n mate herstel dat ek vandag geen gebrek oorgehou het nie! Daarom getuig ek graag dat die Here leef en steeds wonderwerke doen. Sy mag en krag is onbeperk! Aan Hom al die eer!

Indeks     Index