SAAM MET JESUS REGEER?
  In Matt. 20:17-28 vind ons die verhaal van die twee seuns van Sebedéüs en hulle moeder wat 'n versoek aan Jesus gerig het: "...Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand...Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir Hom: Ons kan. En Hy sê vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; maar om te sit aan my regter- en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is" (Matt. 20:21-23). Hulle het voorwaar nie geweet wat hulle vra nie. Baie geestelike lesse sou nog op hulle wag.
Sal hulle dalk tóg eendag aan sy linker- en regterhand sit? Alvorens hulle egter sou kon regeer, moes hulle louterings-prosesse deurgaan. Jakobus het vinnig geleer dat hy moes ly ter wille van Jesus. Hy is op ‘n jong ouderdom doodgemaak. Johannes is o.a. lewendig in 'n pot kokende olie gegooi. Later in eensaamheid verban na die eiland Patmos, waar hy wonderlike openbaringe ontvang en in die Boek Openbaring neergepen het.
As ons saam met Hom wil regeer, moet ons eerstens leer om soos Maria aan sy voete te sit. Dit spreek van verootmoediging en afhanklikheid. Dáár leer ons dat "ek" niks is nie, tot niks in staat sonder Hom nie, en om nie op eie krag te steun nie. Juis híérin lê my krag. "Want", sê Hy, "My krag word in swakheid volbring." Ek leer verder dat as ek myself voor Hom verneder, Hý my op die regte tyd sal verhoog. Hy het 'n behae in nederigheid. Voor sy grootheid en Almag besef ek my nietigheid en geringheid. Hy moet meer word en ek minder...
Ek mag ook soms soos ‘n klein kindjie op sy skoot gaan sit. Dit spreek van intimiteit tussen kind en Vader, want "Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees" (Ps. 103:13). Jesus roep: "Abba, Vader,… neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil" (Mark. 14:36).
Abba is Aramees vir "my Pappie". Dit dui op die intieme verhouding van Jesus met God die Vader. Paulus skryf dat ons deur die Gees roep "Abba Vader" (Rom. 8:16; Gal. 4:6). Hierin kan ons sien dat elke kind van God in 'n intieme verhouding met sy hemelse Vader mag staan. In so ‘n verhouding koester Hy ons en ons kan ons liefde aan Hom verklaar.
A.g.v. hierdie intieme verhouding, mag ons ook soos Johannes met ons kop op sy bors lê. Wanneer ons dit doen, hoor ons sy hartklop. Dan praat Hy met ons oor sy werk, oor sy kinders en oor alles wat sy Koninkryk raak. Na ons gesprekke met Hom, sal ons sy Koninkryk op die hart dra, dit bevorder en sy blye boodskap met vreugde en ywer verkondig, terwyl ons ook bereid sal wees om vir Hom te ly - al moet ons ook sterf in die proses! Terwyl ons hier op aarde is, moet ons hierdie drie dinge doen, en dan sal ons in die lewe hierna saam met Hom regeer!

Indeks     Index