TEL ANDER OP JOU SKOUERS AS JY BID
  “Abraham het toe tot God gebid, en Hy het vir Abimelek gesond gemaak, ook sy vrou en sy slavinne, en toe kon hulle weer kinders hê” (Genesis 20:17).
Gelowiges kan partykeer in moeilike situasies beland. Vra maar vir Abraham. Hy het in ’n stadium gemaak asof Sara sy suster was toe hulle in koning Abimelek se gebied was.
Later moes Abimelek deur ’n engel in ’n droom verneem dat sy eintlik Abraham se vrou was. Toe was die koning baie ontsteld. Gelukkig het hy en Abraham die saak uitgepraat.
Nadat Abimelek toe vir Abraham met geskenke oorlaai het, het Abraham op sy beurt ’n “geskenk” vir Abimelek gegee: ’n gebed! Ja, Abraham het gebid dat die Here weer al die vroue in sy huishouding in staat sou stel om kinders te kon hê. En toe gebeur dit ook!
Gebed is die grootste geskenk wat jy ooit vir iemand anders kan gee. Wanneer jy jou eie spesiale tyd met God wy aan die nood van iemand anders, dan doen jy regtig groot dinge vir hulle!
Wanneer jy toelaat dat ander mense as’t ware op jou skouers staan as jy vir hulle bid sodat God hulle goed kan raaksien, dan het jy regtig iets van die krag van gebed gesnap.
Gebed verander die wêreld. Want gebed is om aan te dring op God se spesiale aandag.
Gebed is om aan sy hemelse deur te bly klop totdat Hy oopmaak. Maar gebed is ook om voor God te staan met ander se seerkry en hartseer. Tel daarom asseblief vandag iemand op jou skouers as jy na God toe gaan...
Gebed: Here Jesus, hoor as ek nou vir iemand anders bid!
Uit: Uit die Beek vir 2004 - Stephan Joubert

Indeks     Index