IN 2004 WIL EK...
  Soos Paulus die dinge vergeet wat agter is en my uitstrek na wat voor is. Ek wil my inspan om by die wenstreep te kom sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus (n.a.v. Fil. 3:14).
Soos die psalmdigter opkyk na God van Wie my hulp af kom (n.a.v. Ps. 121:1,2).
Soos Abraham deur geloof gehoorsaam trek na my plek van erfenis en wanneer ek op die proef gestel word, offer wat God ook al mag vra (n.a.v. Heb. 11:8,17).
Soos Henog in my daaglikse lewenswandel God uitermate behaag (n.a.v. Heb.11:5).
Soos Salomo van God om ‘n opmerksame hart en insig bid sodat ek gedurigdeur tussen goed en kwaad kan onderskei (n.a.v. 1 Kon. 3:9).
Soos Asa doen wat reg is in die oë van die Here en my hart volkome op Hom rig al die dae van my lewe (n.a.v. 1 Kon. 15:11,14b).
Soos Esra my verootmoedig voor die aangesig van God sodat my en my geliefdes se lewensreis voorspoedig mag wees (n.a.v. Esra 8:21).
Soos Daniël, ten spyte van dekrete of lewensomstandighede, God daagliks prys, aanbid en dank (n.a.v. Dan. 6:11).
Soos Stéfanus en Jesus almal vergewe wat my leed en smaad aandoen (n.a.v. Hand. 7:60; Luk. 23:34).
[Huegene Venter]

Indeks     Index