DIE GOUE KANDELAAR
 

Past. Josua Malan
Pinkster Protestante Kerk
Maherrystraat, Potchefstroom


In die beskrywing van die goue kandelaar in Eks. 25, het ons 'n pragtige beeld van Christus en Sy Liggaam of Bruid. Die lampe was so opgestel dat die lig daarvan op die voorkant van die kandelaar val om die kandelaar self te verlig. Almal wat inkom, moes sien hoe mooi dit is.
So het Christus as Groot Lig die duisternis kom deurbreek (Jes. 9:1).
Elke lamp was gevul met suiwer olyfolie en voorsien van 'n vlaspit. Saans moes die priester die lampe opsteek en regmaak (Eks. 30:7-8). In die heiligdom waar alles van goud was, is aan die lamppit ook 'n plek toegesê. Dink daaraan: op die lamppit rus die verantwoordelikheid om die kandelaar te verlig en sy heerlikheid te openbaar. Maar die lig wat die lamppit versprei, kom nie uit homself nie, maar van die olie wat deur hom vloei.
In die Woord word die mens met 'n lamppit vergelyk (Matt. 12:20). Deur hierdie beeld kom ‘n groot en wonderlike waarheid tot ons dat die Heilige Gees wat gekom het om die Here Jesus te verheerlik, dit doen deur verloste mense! Hulle het die voorreg en verantwoordelikheid om Christus aan die wêreld voor te stel in al Sy skoonheid, liefde en heerlikheid.
Die hemelse Vader soek vandag onder Sy kinders hulle wat laag genoeg kan buig om eenvoudige lamppitte te wees; hulle wat Hom lief genoeg het om gehoor te gee aan Sy bevel om vervul te word met die Heilige Gees (Ef. 5:18). Slegs hulle wat naby genoeg aan Hom bly om gedurig deurweek te wees met die olie, sal die Kandelaar vir die wêreld aantreklik maak.
Elke môre het Aäron die lampe nagesien. Hy moes die roet van die pitjies verwyder en die lampe weer vol suiwer olyfolie maak. Dan het hy die snuiter geneem en die roet van elke pit afgeknip en die goue kan met olyfolie geneem en al die lampe met vars olie gevul.
In Openbaring 1 sien ons Christus as Hoëpriester van die groter en volmaakte tabernakel tussen die sewe goue kandelaars (Sy Kerk) wandel. Hy sal die dowwe lamppitte nie uitblus nie, maar vrymaak van roet, en van vars olie voorsien sodat hulle, deur helder te brand, die lig vir die wêreld kan wees.
Dis lieflik om die Here Jesus te leer ken as Verlosser. Dis wonderlik om met Hom kennis te maak as Heiligmaker en Geneesheer, maar dis 'n groot dag wanneer u die waarheid van Sy Hoëpriesterskap ervaar! Dis 'n voorreg waarvan min kinders van God gebruik maak om gedurig in aanraking met hulle Hoëpriester te bly sodat geen roet kans het om saam te pak nie, en vars olie, die olie van die Heilige Gees, gedurig invloei.
Wat 'n onuitspreeklike voorreg om elke dag te kom en te sê : “Here Jesus, U is my Hoëpriester, wys my of daar roet in my lewe is, enigiets wat moontlik die vlam kan verdof. Deur U genade sal ek die snuiter van 1 Joh. 1:9 gebruik. Vul my met vars olie sodat ek vandag helder mag skyn, U mag verheerlik in alles en onder alle omstandighede meer as oorwinnaar mag wees.”
Die dringende boodskap van die Bruidegom aan Sy wagtende Bruid is: “Laat die heilige nog heiliger word.” (Openbaring 22:11).
Maranata, Jesus kom!

Indeks     Index