SVET MIRA - RENI, OEKRAÏNE
  Eretha de Klerk



In Reni, 'n dorpie in die suide van die Oekraïne, is God se Koninkryk besig om te kom! Dit was vir my en 9 ander Suid-Afrikaners 'n wonderlike voorreg om onlangs twee weke in Reni deur te bring. Daar, by die gemeente Svet Mira (Lig vir die wêreld), het ons opnuut ervaar dat Jesus waarlik leef!
Juis vanweë die feit dat die stryd tussen lig en duisternis so fel aan die gang is, is dit des te meer duidelik dat Hy waarlik leef! Siele word gewen en mense bevry. Ander word innerlik genees en in baie gevalle vind ook fisiese genesing plaas.
Dit alles gaan gepaard met die harde werk van kinders van die Here - kinders wat die opdrag van Matt. 28:19 duidelik verstaan: "Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het."
Die gemeente Svet Mira is ongeveer 6 jaar gelede deur Ockert en Michele Potgieter begin. Ockert is 'n boorling van Potchefstroom. God eer Ockert se gehoorsaamheid aan Sy roepstem deur die gemeente te seën - nie net in getalle nie, maar ook in geestelike groei. Daarom berig 'n onlangse gebedsbrief die volgende: "As elke dag van ons lewens hier 'n koerantberig moes wees, sou die opskrif elke keer 'JESUS' moes wees. Met GROOT letters. Met ROOI letters. Alles 'JESUS'! Want dit gaan alles oor Hom en vir Hom! Hy is dié Rede vir ons bestaan, waar baie mense se lewens sinloos is. Hy is ons LEWE te midde van die vallei van doodskaduwee. Hy is ons KRAG wanneer ons swak is. Ons reik uit na die dag dat Hy alles in almal sal wees."
Die eenvoud van die lewe soos God dit vir die mens bedoel het, tref jou onmiddellik in Reni. Die eenvoud daarvan om op HOM gefokus te wees! Die eenvoud van mense wat elke dag daaraan werk om Sy Koninkryk te laat kom. Om tevrede te wees met dit wat hulle het. Om selfs vreugde daarin te vind! Ook die eenvoud om saans te beleef hoe beeste en bokke huis toe gejaag word met al die bekende plaasreuke en geluide!
Dan kom die vraag onwille-keurig by 'n mens op: Waarmee is ons besig? Is Mammon nie maar die meeste van ons se god nie? Ons is met soveel dinge besig, maar terselfdertyd met niks! Niks wat ewigheids-waarde het nie! Sal ons werklik gereed wees wanneer Jesus kom? Is ons lampe vol olie? Sal ons aan die werk of aan die slaap gevind word? Die liefde en opregtheid in mense wat uitverkoop is aan die Here, is só duidelik by die gemeente Svet Mira. So het ek, toe ons groep aan die gemeente voorgestel is, gesê dat ek alreeds so lief vir hulle geword het dat ek sommer daar wil kom bly. Die volgende week kom bied 'n babushka (vroutjie) haar huisie vir my aan! Hulle het só min, maar weet dat niks aan hulself behoort nie! Dit is ook nie vreemd dat die eerste woorde wat ek in Russies geleer het, “spasiba Issu”, “Dankie Jesus”, was nie!
Vader God is besig om deure oop te maak vir Svet Mira om Sy lig te bring op vele terreine. So is daar onlangs die eerste stort in die kraam-afdeling van die hospitaal in gebruik geneem. Svet Mira het met die hulp van Suid-Afrikaanse boeties en sussies die stort geskenk en geïnstalleer. Tot nou toe moes vrouens nadat hulle gekraam het, tevrede wees met een vuil skotteltjie koue water.
So maak die Here deure oop vir die verkondiging van die Evangelie!
Dan is daar ook 'n afdeling vir babas wie se mammas hulle nie wou huis toe neem nie as gevolg van 'n tekort aan kos of 'n dronk pa. In die hospitaal is daar geen geriewe of speelplek vir hierdie kindertjies nie!
So kon klein Sasha op agtien maande nog nie staan nie, omdat hy heeldag in sy bababed moes lê! Die kinders kry geen aandag nie en het net pap om te eet!
Svet Mira het 'n visie van die Here ontvang om 'n tehuis vir sulke kinders op te rig.
Nog 'n projek is die skole-voedingsprojek. Die deur het reeds by een van die skole in Reni oopgegaan, naamlik die Vyfde Skool. Die moontlikhede is onbeperk! Die voedings-projek is ook 'n deur om die Evangelie van Liefde te ver-kondig. So kan ek nog vertel van weeklikse uitreike na Ngornia, Plavne, Arlofka, Ismael en nog baie meer.
Daarom wil ek 'n uitnodiging rig aan almal wat hierdie artikel lees. Kom ons vat hande en ondersteun Svet Mira. Kom ons bid vir hulle en/of ondersteun hulle finansieel. Kom ons hou hulle arms omhoog soos Aäron en Hur van ouds. Daar kom weekliks 'n gebeds-brief per e-pos uit Reni. Stuur u eie e-posadres aan ons en ons stuur die pos aan. Die adres en telefoonnommer verskyn hier onder.
Ons groet u soos die Russiese Christene sou: "S'Bogom. Mag God u seën!”

Indeks     Index