DIE GEKNAKTE RIET EN DIE DOWWE LAMPPIT
  “Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel ‘n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig. Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie. ‘n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en ‘n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie... En op sy Naam sal die heidene hoop” (Matt. 12:20-21).
Die Kneg van die Here is Jesus Christus (Bg. is ‘n aanhaling uit Jes. 42:1-3. Daarom word dit ook hier in Matt. met ‘n hoofletter geskryf). Hy tree op onder leiding van die Heilige Gees, en Hy tree op in sagtheid en nie met ‘n trompetgestal nie.
“‘n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en ‘n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie...” In die eerste plek word daar oor Israel geskryf in die Boek Jesaja.
Die Kerk het toe nog nie bestaan nie. Israel sal dus deur al die eeue heen nog steeds mense na God rig, al is dit as rokende lamppit...
Toe die Kerk die Heilige Gees ontvang het in Handelinge 2, was hulle ‘n lamp wat helder geskyn het. Deur die eeue heen het die Kerk se lig van tyd tot tyd egter ook swakker begin skyn. Tog sal Hy sy Kerk ook nie verwerp nie, maar Hy begeer om hulle te herstel in ‘n intieme verhouding met Hom.
Hy sal sy Kerk telkemale, onverdiend, besoek met herlewing in verskillende wêrelddele en verskillende lande op bepaalde tye soos Hy verkies. Daar ís nog steeds hoop vir die Kerk van Jesus Christus!
So is daar ook hoop vir elke individu wat sy hoop op Jesus vestig - al verkeer ons soms in swakheid en al brand ons lig soms swak. Hy sal Hom steeds oor ons ontferm en telkemale na ons toe uitreik.
Wanneer Hy roep, moet ons net antwoord en terugkeer na Hom toe. Die riet mag geknak wees: Die aanslae van die lewe mag hoe wreed en fel op jou gewees het, Hy sal jou nie verwerp nie. Die lamppit mag rook: Jou lig skyn nie meer helder vir Hom nie, en jy weet sélf hóé helder jou lig eens geskyn het.
Soms verwyt jy jouself omdat jou lamppit rokende is. Maar onthou: Hy sal jou lamppit wat rook, nie uitblus nie. Inteendeel sal Hy na jou toe kom en jou weer die olie van die Heilige Gees kom gee, sodat jou lamp weer helder kan skyn. Dít is hoe Jesus is. Dít is Sy karakter.
“The most precious thing about Jesus is the fact that He is not the great Discourager, but the great Encourager” (W. Barclay). “En op sy Naam sal die heidene (Nuwe Vertaling: Nasies) hoop.” (Matt. 12:21). Dit sluit álmal in. Ook vir jou!
Kom en keer terug na Hom toe met jou hele hart, en Hy sal Hom wéér oor jou ontferm!

Indeks     Index