MY HELE LEWE HET VERANDER!!!
  My naam is Pypies Laubscher. Dit klink snaaks. Ja, dit is ‘n bynaam wat ek al vroeg in my lewe gekry het. Vir baie jare was ek ook maar net so hol soos ‘n pyp. Ek het dit self nooit besef nie, want sien, ek het myself net altyd van die buitekant af gesien. Ek het nooit die insig gehad om myself objektief te evalueer nie.
Regdeur my lewe was ek egter bewus daarvan dat God Hom met my bemoei. Ek het eerlik geglo dat ek gered was, hoewel ek nog in sonde gerol het en my “eie ek” die belangrikste persoon in my lewe was.
Ek was nie wedergebore nie. Ek was ‘n wêreldse mens wat slegs van God geweet het. My hart was van klip. Maar alles het verander!
Een waarheid in die Bybel het vir my met verloop van tyd al meer en meer betekenis begin kry. Dit is dat die Heilige Gees hier op aarde is, dat Hy in jou kom woon en jou verander. Onmiddellik en geleidelik...
Dit het ek telkemale in die Bybel gelees. In die Ou en die Nuwe Testament. Van besondere betekenis vir my was Jesus se woorde dat jy moet bid om die Heilige Gees te ontvang.
Dit het ek toe gedoen en vir kort tydjies dramatiese veranderinge in my menswees bespeur. Dit was egter nooit blywend nie.
Dit het egter ‘n al hoe dringender begeerte by my geword om vervul te word met die Heilige Gees. Die Here het my gelei na twee manne wat vir my gebid het.
Dit was voorwaar ‘n baie ongemaklike situasie vir my gereformeerd-geskoolde denke. En, wonder bo wonder: ek is verander, oombliklik! Ek het die Heilige Gees ontvang. Ek is wedergebore!
Kan enige van julle lesers julle indink dat jy só ‘n vreugde in jou hart ondervind dat jy nie kan ophou praat oor wat met jou gebeur het nie! Al my skugterheid om te praat oor die Here het verdwyn. Ek is gevul met ‘n ongekende liefde en deernis vir my naaste. Die Bybel het die wonderlikste boek geword. Tot twee-uur in die nag het ek nog aanhoudend Bybel gelees! Vir maande en maande het dit voortgeduur.
Ek het ook ‘n Heilige Gees taal ontvang. Hoe ontsagwekkend is dit nie om in die nag wakker te word en jou eie stem weerklink deur die kamer in ‘n hemelse taal nie! Dit vul jou hele wese met ontsag!
Ek het aanvanklik elke woord neergeskryf. Die Gees van die Here het gedurig met my gepraat, en Sy woorde was op my lippe. Vandag is ek nog maar net ‘n gewone mens, maar ‘n veranderde en steeds veranderende mens. Stadig maar seker is die Here besig om my te leer, my geloof en karakter te bou en te gebruik tot Sy eer.
Prys die Here!

Indeks     Index