SOPKOMBUIS VIR POTCH
  Wilma van Heerden

Vroeg Saterdagoggend 23 Junie droom ek van 'n klomp mense wat saam in 'n spesifieke rigting stap, terwyl ek by hulle is en hulle help en lei. Die Here het vir my die spesifieke behoeftes van die mense uitgewys. Waar ‘n persoon wegbeweeg het, het ek hom dadelik weer teruggehelp, totdat almal by 'n hek gekom het wat ek toe vir hulle oopgemaak het om in te gaan.
Na die droom skrik ek wakker en was ek dadelik daarvan bewus dat die Here met my praat. Kragtig en duidelik kom die opdrag dat ek 'n sopkombuis in Potchefstroom moet begin vir die mense van ons stad wat swaarkry en honger ly. Toe gee die Here die opdragte in volgorde hoe ek te werk moet gaan, asook die dag, datum en die naam van die projek, nl. Elim, wat “palms” beteken (en geassosieer word met ‘n oase, ‘n plek van rus).
Die Here het ook uitdruklik gesê dat daar Woordbediening moet wees. Hy het gepraat van Jakob en Esau en dat Jakob die eersgeboortereg verkry het deur 'n bord sop. Hy het gesê dat die eersgeboortereg van hierdie mense die ewige lewe is. Verder het die Here gesê dat Elim se huis nooit sonder kos sal wees nie. Hy het my ook verseker dat daar geen teen-kanting teen hierdie Projek sal wees nie, en dat Hy Self alles sal bewerkstellig.
Alle vrae wat in my hart opgespring het, het die Here dadelik beantwoord, asof ons mondelings in gesprek was. Teen hierdie tyd het ek gebewe en gehuil in Sy magtige Teenwoordigheid.
Ek het volgens opdrag begin deur my man in te lig, my geesgenote, nl. my selleier en sy vrou te vertel, en die eerste groot kastrol nog dieselfde dag te gaan koop. Toe my man die kastrol in die winkel van die rak afhaal, het my hart geruk, want die werklikheid van iets wat ek nog nooit vantevore eers vir 'n oomblik bedink het nie, het my getref! Soos die getroue hand van God werk, was daar Sondagoggend kans vir getuienisse in ons erediens. Ek het getuig van my belewenis waarná oorweldigende positiewe reaksie ontlok is. Onder andere was daar die bevestiging van 'n droom wat ‘n gemeentelid die Sondagoggend gehad het. Die Here het my ook bemoedig deur Skrifgedeeltes wat verskeie persone vir my gebring het. Iemand wat deur die Heilige Gees gelei is, het ‘n offer gebring en aan my die eerste donasie oorhandig. Aangesien die nodige eetgerei aangekoop moet word, was dit baie welkom. Andere weer, het bestanddele, brood, en hulp aangebied.
Die Bestuursliggaam van die gemeente het goedgunstiglik die kerksaal afgestaan waar die etes aangebied sal word. Een ding weet ek verseker - dat Elim nie uit myself nie, maar uit die wil van God gebore is. Die Here is steeds Skepper Gees. Hy skep 'n passie waar daar geen was nie. Mag Hy alleen hierdeur verheerlik word!

Besonderhede:
Naam: Elim Sopkombuis.
Tyd: Dinsdae 12:00 tot 14:00.
Plek: AGS Woord en Lewe Kerksaal, Springbokstraat Miederpark, Potchefstroom. Navrae: Wilma van Heerden
Tel: (018) 294 5004 (H)
Tel: (018) 294 4634(W)

Indeks     Index