'N DUBBELE WONDERWERK
 
Oom Ben en Tannie Hester Greyling

Oom Ben en Tannie Hester Greyling (Groen Wilgers). Tannie Hester skryf:
Reeds 9 maande gelede het God my volkome genees van kanker in die kolon, nadat Roelf Theunissen vir my gebid het. My getuienis het in die Februarie-uitgawe van die “Goeie Nuus” verskyn. Ons was só opgewonde oor God se genesende krag! Ek moet nou getuig van wat daarna gebeur het.
Ek het my hart voor God uitgestort, want ek ervaar ‘n dringende behoefte om vir Hom te arbei. Maar hoe kan ék siele vir Hom wen? Toe kontak ek weer vir Roelf en hoe wonderlik was sy woorde nie:
“Tannie Hester, vandat jou getuienis in die “Goeie Nuus” verskyn het, het so baie gekom vir gebed, siele is gered, huwelike is herstel, siekes is genees. Jy het ook ‘n groot sendingveld in Groen Wilgers. Begin daar arbei vir die Here en jou arbeid sal nie tevergeefs wees nie. Jou getuienis alleen het al baie mense laat draai na Jesus toe”. Is dit nie wonderlik nie!
En toe kom ons Hemelse Vader deur die krag van Sy Heilige Gees nóg ‘n wonderwerk doen. Gedurende hierdie tyd was my man, Ben, ook baie siek.
Oom Ben skryf:
Dit was ‘n baie sensitiewe situasie, maar só groot was ons blydskap toe God my vrou genees het van kanker dat ek ook my volle vertroue in Hom geplaas het. Vir die afgelope 2 jaar het ek geen beheer oor sekere liggaamsfunksies gehad nie. Ek het nie geweet wanneer ek die kleedkamer moes besoek nie, en dan moes my vrou altyd kom help. En toe begin my bene weier om te loop. Ek het begin val en partykeer tot 4 keer per dag geval. My bene het heeltemal lam geword en ek moes ‘n rystoel koop. Hoe vreeslik was dit nie om op 88-jarige ouderdom in ‘n rystoel gekluister te wees nie! My liggaamsfunksies het heeltemal ingegee. Ek was al ± 4 maande in die rystoel toe Roelf een aand in Maart weer kom kuier het. Roelf het voor my gekniel en gebid.
Die volgende dag was ons oorstelp van vreugde. Ek het nuwe lewe in my bene ervaar en ek kon loop! My vrou Hester het eerste gemerk dat ek gróót treë gee, en hoe geweldig was my blydskap nie toe ek weer geweet het wanneer om kleedkamer toe te gaan! Op ons knieë het ons God geloof en geprys. Ek het vir Roelf laat weet en hy het dadelik gekom en saam het ons God verheerlik.
Tot nou toe - 3 maande al - is my liggaamsfunksies so normaal soos dit ‘n hele paar jaar laas was. Saam met my vrou loop ek eetsaal toe, deur Pick ‘n Pay en Checkers, waar ek altyd in die motor moes wag as sy inkopies gaan doen het. Genade groot, oneindig groot, het God aan my bewys! Roelf skryf: Ons gee aan God al die eer! God is die groot Geneesheer en ek bloot ‘n instrument in Sy hand. God het elke mens op aarde LIEF. Sy Seun Jesus het vir ons redding en genesing bewerkstellig deur die offer wat Hy op die kruis gebring het. As u dit glo, sal u deur u Verlosser geseën word.
Skakel Roelf of Sue by (018) 294 5865 as u gebed nodig het.

Indeks     Index