ONS STEL BEKEND...
Die Gereformeerde Kerk Potchefstroom Mooirivier
  Ds. Etienne Schalekamp
Dit is God wat Hom bemoei met die lotgevalle van die mens en sy Kerk op aarde. Hiervan kan die Geref. Kerk Mooirivier getuig en dit hard en ondubbelsinnig met volle oorgawe uitroep: Aan God al die eer, halleluja!
Die Berlynse Kerkkompleks
 
TWEE VERHALE
Twee verhale is ter sprake. Uiteindelik word die twee verhale één en dan kan jy as mens net in verwondering terugstaan en met verwagting uitsien na die toekoms!

Eerste verhaal: Ontstaan van die kompleks
*Die Berlynse Sendinggenootskap stuur pastoor Moschütz na Potchefstroom om 'n bediening hier te vestig. Onder moeilike omstandighede bou hy 'n huis en trek hy in op 21 Aug. 1873.
* Vanweë sy swak gesondheid is pastoor Köhler gestuur om hom te help. Met sy aankoms in Potchefstroom (5 Okt. 1874) is pastoor Moschütz dood en moes pastoor Köhler toe die kerk bou. Die kerkgebou is 1876 in gebruik geneem. * Die hoeksteendatum is 31 Maart 1872. Pastoor Moschütz het waarskynlik met sy aankoms in Maart 1872 reeds die hoeksteen gekoop en laat graveer.
* Die skoolgeboutjie links van die kerkgebou is in 1875 gebou en betrek. Dit is die eerste gebou in Potchefstroom wat 'n sinkdak gekry het. Die ander buitegebou is 'n karhuis en was waarskynlik 'n perdestal met 'n solder.

Historiese waarde van die kompleks
Hierdie vier geboue op een erf het besondere betekenis en Mooirivier beskou dit as 'n voorreg om deel te wees van die geskiedenisketting van die kompleks. Dit is die enigste plek in Potchefstroom waar 'n pastorie en kerk met buite-geboue volledig bewaar is. Hiertoe het die Simon van der Stel Stigting en die huidige eienaar, mev. Bird, 'n reuse bydrae gemaak. Die kerkgebou is die derde oudste kerkgebou in Potchefstroom.

Tweede verhaal
In die herfs van 1987 het 'n tweede Geref. gemeente in die suide van Potchefstroom ontstaan, nl. die Geref. Kerk Potchefstroom Mooirivier. 'n Kerkgebou is gedeel. met 'n ander gemeente. Mooirivier is 'n gemeente wat na Bo vir God, na binne vir sy eie lidmate, en na buite vir die gemeenskap en die wêreld graag diensbaar wil wees. Die gemeente streef daarna om op 'n beskeie wyse vir die wêreld te wys dat God hulle liefhet.

Die twee verhale word één
Die verlange in Mooirivier se hart om 'n eie kompleks te hê, het gegroei en baie gebede is op 'n besondere manier beantwoord: die Gemeente word die trotse nuwe besitters van die sendingkompleks. Dink 'n mens na oor die ontstaansgeskiedenis van die oorspronklike gemeente en kerkkompleks, voel jy ongelooflik bly dat 'n gemeente weer 'n tuiste gevind het op die hoek van Du Plooy- en Gouwsstraat.
Die kompleks in sy Gotiese eenvoud dien as stille getuienis van opregte geloof, naasteliefde en deursettingsvermoë van mense wat geglo het daarin om heen te gaan en die Woord te verkondig aan ander wat soek - ongeag ras, kleur of taal.
Mooirivier hoop en bid om steeds hierdie roeping uit te leef. In die harte van die gemeente en sy predikant, ds. Etienne Schalekamp, leef die hoop dat die sentrale ligging van die kompleks daartoe sal bydra om eietydse probleme op 'n eietydse, unieke manier aan te spreek.
Eintlik herhaal die geskiedenis hom tweërlei op 'n baie spesiale wyse. In die 19de en vroeg 20ste eeu het die lidmate vanaf die suide van die dorp gekom om bediening te ontvang. Dit gebeur binnekort weer! Verder is dienste op 'n stadium in Duits, Pedi (Tswana) en Afrikaans gehou. Almal is bedien en dit is die gebed van Mooirivier se hart dat mense uit die wêreld opnuut verkwik kan word deur die liefde van God wat Sy Seun vir die wêreld gestuur het...

4 AUGUSTUS 2002
Die gemeente is besig om voor te berei om op 4 Aug. sy eerste eredienste in die kompleks te hou. Om dit te kan doen, moes heelparty noodsaaklikhede aangeskaf word om die geboue goed toe te rus. Die plan is om die kerkgebou beskikbaar te stel vir troues, uitstallings en klein konferensies. Omdat die kompleks so deel uitmaak van Potchefstroom se kultuurhistoriese erfenis, is groot welwillendheid in die gemeenskap ondervind om by te dra tot die heringebruikneming van hierdie kompleks.
Ons dank die Here vir die besondere wyse waarop Hy
  deur Harriëth Jane Bird, die gemeen-skap, vriende van die gemeente asook Mooirivier se eie lidmate, dit moontlik gemaak het om vanuit hierdie kompleks voort te gaan met die bediening van God se Woord.
Saam met Dawid wil ons stil word voor God en sing: "Laat Heer u seën oor ons daal..."
Ds. en mev. Etienne en Louisa Schalekamp
 

Indeks     Index