HEBRON HUIS
VIR HAWELOSES

  Dit is met groot vreugde en diep dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader dat ek die foto van die byna voltooide eerste gebou aan ons lesers kan wys. Gemelde gebou bestaan uit 14 ruim kamers, 7 elk aan weerskante van Hebron Huis vir Haweloses
  'n Lang gang. Ons is tans besig met afronding van die elektrisiteits-, loodgieters-, en verfwerk. Ons is trots en dankbaar teenoor die Hebronmanne wat puik werk lewer. Ongelukkig kan ons nog geen mense inneem voordat die tweede gebou van 16 kamers ook voltooi is nie, want die 2 saam vorm ‘n eenheid.
Ons staan telkens verstom oor God se wonderbaarlike voorsiening. Ons het ‘n lang, dik kabel vanaf die kragpaal tot by die eerste gebou benodig en vandaar ‘n dunner kabel na die tweede gebou. Saam met die afgebreekte koshuis het ons 2 dik stukke kabel gekry en toe ons dit las, was dit presies die lengte wat ons nodig gehad het! Daarna skenk iemand ons ‘n rol dunner kabel - presies die regte dikte en lengte! Ek het 10 kragproppe gekort. Ek kon 6 koop en het die Here vir nog 4 vertrou. Ek kry toe 2 by ‘n pandjieswinkel vir R2.50 elk. Ondertussen koop ek by ‘n veiling ‘n meterkas met toesluitklap op ‘n staander vir R10.00 en wat vind ek binne-in? Die ontbrekende 2 proppe!
‘n Verfplek skenk aan ons 25 liter verf - genoeg om die voor- en sykant te voltooi. ‘n Persoon van Stilfontein skenk 20 liter verf - genoeg vir die agterkant! Nadat die buitekant voltooi is, kom die een 5 liter blik na die ander. Iemand stuur selfs sy eie verwer saam met ‘n blik verf en hy het die eerste kamer voltooi! Ons het genoeg verf om 10 van die 14 kamers te voltooi. Firmas en winkels kom ons tegemoet en gee afslag op elke produk. Iemand het ook die dakverf voorsien!
Ons het ook elektriese bedrading benodig. ‘n Persoon plaas ‘n tjek ten bedrae van R2 000 in die offerandesakkie. Iemand anders skenk R500. Ons jubel want ons kan die nodige koop en ook die loodgieterswerk laat doen! Nog ‘n persoon skenk R800 vir ‘n kombinasie-stoof en meubels. Ons sien daagliks die magtige Hand van God in beweging!
Ons het R20 000 ontvang vir die 2 geboue se betonvloere. ‘n Fabriek maak vir ons kosteloos ‘n klomp nuwe plate om die geroestes te vervang. ‘n Argitek teken planne kosteloos en help met elke bouprobleem wat opduik. ‘n Ingenieur doen opmetings en terreinplanne gratis. Al die stukkende ruite is gratis vervang. Die Parkeraad het ‘n menigte bome geskenk. ‘n Persoon het ‘n nuwe 500 liter watertenk geskenk en iemand anders ‘n tenkstaander. Met kontantbydraes kon ons al die waterpype en verbindings koop!
Die Here het die wonderlikste toegewyde Christene op die Trust voorsien wat vir al die “kopsere”, administrasie en regsaspekte sorg! Selfs die landmeter, elektrisiën en die man wat die omgewingstudie doen, is almal toegewyde Christene wat hulle dienste aan God bied en spesiaal deur die Here uitgesoek is vir hierdie werk!
Die Kerk en individue help gedeeltelik met kos, vleis en groente vir die versorging van die manne wat tans op Hebron werk. Mense laai hul opvulgrond hier af, of betaal ons om dit te doen! Ons het al heelwat meubels en matte ontvang en die rondawel kreun onder die klere, gordyne en beddegoed. Waarlik, God is só goed en getrou! Aan Hom al die eer!
Baie dankie ook aan almal wat hierdie projek ondersteun!
Huidige behoeftes: ‘n Hawelose man of iemand wat vaardig is in boubedrywighede en sy dienste gratis wil aanbied in ruil vir verblyf, kos en klere; hout- of ysterpale vir ‘n motorafdak; asbespanele; iets waarvan ons ‘n stoorplek kan maak; manskoene/tekkies (nommers 6-8); langbroeke (nommers 32-34); stapelbeddens; matrasse en hangkaste.
U Is hartlik welkom om Hebron te besigtig. Skakel Gretha le Roux by (018) 290 1802 of 082 607 7198 vir ‘n afspraak.

Indeks     Index