WAAROM SIEN ONS JESUS NIE?
  Toe die Russe die eerste keer met 'n ruimtetuig om die aarde gereis het, het een ongelowige ruimtereisiger gesê: "Ons het om die aarde gereis, maar ons het God nie gesien nie!"
Vandag, meer as ooit tevore in ons land, is die Bybel in die spervuur. In navolging van die teoloë van die "Jesus-Seminaar" word die waarheid van die Bybel en in besonder dít wat die vier Evangelies oor Jesus sê, sterk teëgestaan en word daar veral baie vreemde dinge oor Jesus verkondig, bv. dat Hy nie uit 'n maagd gebore is nie, dat Hy nie regtig uit die dood uit opgestaan het nie, en dat Hy nie regtig na die hemel opgevaar het nie. Verder ook dat Hy in 'n vlak graf begrawe is waar wilde diere sy liggaam opgevreet het of dat aasvoëls sy liggaam opgevreet het. Hulle is op soek na die "historiese Jesus", maar hulle soek na Hom buite die Bybel om. In die media word daar te veel prominensie gegee aan hierdie uitsprake, asof dít nou die waarheid sou wees, ten spyte daarvan dat die meeste teoloë van ons tyd nie bg. standpunte ondersteun nie. Die ware gelowige wéét egter dat hierdie “nuwe” uitsprake nie waar is nie, omdat hy Jesus persoonlik ontmoet het as Saligmaker. Die ware gelowige is die een wat Jesus kan "sien", want hy kyk met 'n geestelike oog.
In Luk. 24:13-35 lees ons van die Emmaüsgangers met wie Jesus na sy opstanding saamgestap het sonder dat hulle Hom aanvanklik herken het, want "hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie." In Joh. 20:11 lees ons van Maria wat buite die graf gestaan en ween het, waarna Jesus aan haar verskyn het. Ook sý het Hom aanvanklik nie herken nie. Dit laat ons onwillekeurig dink aan die verhaal van Elisa wat vir sy dienskneg bid: "HERE, open tog sy oë dat hy kan sien." En toe sy oë geopen is, het hy gesien: "meteens was die berge vol perde en waens van vuur rondom Elisa." Elisa het mos vir hom gesê: "Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is" (2 Kon. 6). Ons sal graag kennelik daarvan bewus wil wees dat Jesus elke dag met ons saamstap. Ons sal Hom graag wil "sien". Maar Hy ís elke dag daar. Hoekom "sien" ons Hom dan nie? Miskien lê die antwoord daarin dat Jesus in 'n verheerlikte liggaam is en ons vleeslik dink en vleeslik lewe. Ons fokus só op ons probleme, dat ons Hom nie herken wanneer Hy met ons saamstap nie, soos dit die geval was met die Emmaüsgangers en ook die dienskneg van Elisa. Wanneer ons egter in Gees-dimensie beweeg en dink, sal ons Hom herken, en wéét Hy is met ons! In Gees-dimensie moet ek myself éérs aan Hom prysgee voordat Hy Hom aan my openbaar, sodat ek Hom kan "sien". Paulus skryf in 2 Kor. 2:14 - "Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word." Geestelike dinge moet met ons gees of hart verstaan word. Ons kan dit nie met die verstand deurgrond nie.
Wanneer enige iemand Jesus graag wil sien, hetsy of dit die Russe is wat om die aarde reis in 'n ruimtetuig, of dit die soekers is na die "historiese Jesus" by die sg. "Jesus-Seminaar", en of dit selfs gelowiges is soos die dienskneg van Elisa, die Emmaüsgangers, Maria by die graf of enige ander persoon: Elkeen sal op ‘n plek moet kom in sy lewe waar hy neerbuig voor sy Skepper en Sý Seun Jesus Christus, die Verlosser van die wêreld, aanvaar as sy of haar Persoonlike Saligmaker. Dán, en dán alleen kan ons Jesus "sien"!

Indeks     Index