PROJEK OMIWA YESU: PROJEK HOOR JESUS
  AGTERGROND

Projek Omwiwa Yesu is die naam in Lomwe wat gegee is aan 'n projek om die evangelie oor die radio te bedien aan die luisteraars van 'n gemeenskapsradio in Gurue. Die dorp is geleë in die noorde van Mosambiek in die Zambezia Provinsie. Die hooftaalgroepe is Lomwe, wat meestal op die platteland gepraat word, en Portugees oorwegend in die dorpe. Die meerderheid van die bevolking is ongeletterd en leef in armoede. Verskeie kerke is hier werksaam o.a. die Katolieke kerk en ander hoofstroomkerke soos Uniao Baptista, Evangelica de Cristo, Igreja de Cristo, Adventiste, en ander.

WAAR HET DIT ALLES BEGIN?

Anthonie Welman, leraar van die N.G. Kerk, Klerksdorp-Suidgemeente, het geroepe gevoel om die evangelie te gaan bedien aan die mense van Mosambiek. Hy en sy gesin neem hul intrek in Gurue in 1999 waar hy, as pastoor van die Igreja Reformada em Mozambique, sy bediening begin onder 30 klein kerkies (prayer houses) in die gemeentes van Calani en Namunhapa waarvan sommige kerkies tot 100km buite Gurue is. Die kerkies is meestal in die bos geleë sonder enige formele toegangspaaie Tydens 'n uitreik na die area in 2000 het die gedagte van 'n radiobediening aan die kerkies ontstaan. Die gedagte het gegroei en, terug in Suid-Afrika, is ondersoek gedoen na die moontlikheid om 'n radiosender in Gurue op te rig. Terwyl hierdie ondersoeke nog aan die gang was, het 'n gemeenskapsradiosender onverwags in 2002 in Gurue tot stand gekom.. Hierdie wending van sake het twee belangrike punte bevestig: Eerstens, dat die radiobediening God se inisiatief is. Tweedens, dat God 'n breër visie in gedagte het. Dit gaan nie net om die kerkies van Anthonie te bedien nie, maar om die groter deel van die bevolking, oor alle kerkgrense heen, te bereik. Derdens, het die noodsaak van samewerking met die ander hoofstroomkerke al hoe belangriker geword wat die oortuiging versterk het dat God ook hierdie projek wil gebruik om die kerke nader aan mekaar te bring om 'n verenigde front daar te stel.

KONFERENSIE VAN KERKE

Voortvloeiend hieruit, is 'n besoek aan Gurue gebring en op 15 April 2004 'n konferensie gehou met afgevaardiges van die hoofstroomkerke. Die positiewe gesindheid onder die afgevaardiges het gelei tot die samestelling van 'n interkerklike kommissie met die opdrag om die vordering van die projek te monitor en algehele kontrole uit te oefen.

GEMEENSKAPSRADIOSTASIE

In gesprekke met die bestuur van die radiostasie het hulle bevestig dat hul bereid is om lugtyd beskikbaar te stel vir Christelike programme teen 'n ooreengekome tarief. Volgens statistieke woon 226000 mense in die Gurue distrik waarvan 70% binne die opvangsgebied van die radiostasie is. Ten spyte van armoede geniet die besit van 'n radio voorkeur bo ander besittings en word dit algemeen gevind in die meeste huishoudings. Die uniekheid van hierdie medium kan dus nie genoeg beklemtoon word nie. Die gedagte is om voorlopig te begin met 30 minute lugtyd per week wat later uitgebrei kan word.

TRANSWÊRELD RADIO (TWR)

Gesprekke met TWR, by hul streekkantoor te Macuba in Mosambiek, oor al die vereistes van so 'n bediening was ook baie positief en hulp is aangebied vir die evaluering van potensiële kandidate, wat deur die kerke genomineer sal word as programopstellers. TWR bied opleiding in al die aspekte van radiobediening aan en is onderhandelinge tans in proses ten opsigte van die tipe opleiding, waar dit sal plaasvind (in Maputo of Macuba in Zambezia Provinsie), koste daaraan verbonde, ens.

FINANSIES

In die wêreld waarin ons leef, is niks gratis nie. So is dit dan ook gesteld met hierdie projek. Geld word dringend benodig vir kapitale- sowel as lopende uitgawes. Die beraamde koste is as volg:

Kapitale uitgawes:
v Aankope van toerusting - R20,000
(klank mengbank – 4 kanaal, rekenaar,
mikrofone, minidisk CD opnemer,
sagteware en CD's);
v Opleiding van twee suksesvolle kandidate as programopstellers - R5,000 (kursusgelde, skryfbehoeftes, verblyf- en vervoerkoste); asook
v Klankdigting van 'n ateljee – R500.

Lopende uitgawes:
v Die aankoop van lugtyd – R250/15 min (4 x 30 minute = R2 000/maand);
v Huur van 'n ateljee – R500/maand;
v Elektrisiteitsverbruik – R200/maand;
v Salarisse vir twee persone – R2000/maand; en
v Instandhouding en skryfbehoeftes – R100/maand.

Jaarlikse eskalasie (10%) van die lopende uitgawes moet ook in ag geneem word om die volhoubaarheid van die projek te verseker. Die plaaslike kerke het nie die finansiële vermoë om so 'n bediening te inisieer en/of in stand te hou nie weens die uiterste armoede van die gemeenskappe wat hulle bedien.

U KAN 'N VENNOOT WORD DEUR:

· Gebedsondersteuning;
· Finansiële ondersteuning, hetsy eenmalig of gereelde maandelikse bydraes;
· Toerusting te skenk of te borg; en
· Gurue te besoek saam met jaarlikse uitreike om eerstehandse kennis te verkry van die omstandighede en die gelowiges daar te bemoedig met u teenwoordigheid.

VIR VERDERE INLIGTING, SKAKEL:

Freddie Swart (Selfoon 084 580 2403)
Posbus 10606, Klerksdorp, 2570
Vermeulenstraat 13, Neserhof, Klerksdorp
E-pos adres: friedrichswart@absamail.co.za
Of
Anthonie Welman (Selfoon 09258 82 756 603)
E-pos adres: c94dh@gospellink.org

Vrywillige finansiële bydraes kan in die volgende ABSA bankrekening inbetaal word:
Mosambiek Sending Aksie
Rekening No: 4051035078
Takkode: 501-738, Klerksdorp-tak
Verwysing: Projek Omwiwa Yesu

Open.14:6 – “Toe het ek 'n engel hoog in die lug sien vlieg. Hy het 'n goeie boodskap gehad wat vir ewig van krag bly. Hy moes dit aan die bewoners van die aarde, aan elke nasie, stam, taal en volk verkondig………”

          Indeks